NWU, Potchefstroomkampus, Nuus: Passie vir Afrikaans = Wannie Carstens

Passie vir Afrikaans = Wannie Carstens

ʼn Onuitblusbare passie vir Afrikaans en by wie die bevordering van Afrikaans in veral die buiteland al byna tweede natuur geword het = (is gelyk aan) prof. Wannie Carstens.

Wannie Carstens

Prof. Wannie Carstens – Afrikaans is nie vir sissies nie!

  Carstens is 'n ware ambassadeur vir dié taal in lande soos België, Nederland, Amerika en ander Europese lande. Hy sê dit is verstommend hoe groot die belangstelling vir Afrikaans in Amerika is. Hy verklaar dit met die feit dat Afrikaans die tweede jongste Germaanse taal in die wêreld is en so vinnig tot 'n volwaardige taal ontwikkel het. (Die jongste Germaanse taal word op 'n groep eilande naby Groenland gepraat.)
  Carstens is die direkteur van die Skool vir Tale aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus en sy lys van betrokkenheid by verenigings, rade en ander instellings rakende Afrikaans is baie lank. Hy is tans voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (waarvan hy ’n stigterslid is), ondervoorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, voorsitter van die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans, lid van die direksie van die Buro vir die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, voormalige lid van die adviesraad van die Afrikaanse Taalmuseum en –monument en raadslid van die Universiteit van Stellenbosch.
  Carstens het pas sy boek, Teksredaksie, wat hy in samewerking met prof. Kris van de Poel van die Universiteit van Antwerpen in België geskryf het, die lig laat sien. Hy het vyf jaar aan die boek gewerk. Hy het ook reeds die werk voltooi vir die vyfde hersiene uitgawe van sy boek, Norme vir Afrikaans, wat in April sal verskyn.
  Hy sê hy het twee (eintlik drie) passies in sy lewe. Een, om foute van Afrikaans in die verlede reg te stel en waar hy baie tyd aan versoening spandeer. Tweedens om die gebreke in die Afrikaanse samelewing te probeer uitwis en derdens om die bande met die Lae Lande, wat weens verskeie redes tot niet gegaan het, weer te herstel.
  Carstens is by baie sake in die buiteland betrokke om Afrikaans te bevorder. Hy het gehelp om 'n versameling van Afrikaanse poësie in Gent, die Ernst van Heerden-versameling van Afrikaanse poësie, te vestig. Dit is die grootste versameling van Afrikaanse poësie in die buiteland en bestaan reeds uit sowat 1 000 digbundels. Hierdie versameling word wyd deur dosente en studente wat belang stel in die Afrikaanse letterkunde, veral in die Lae Lande, gebruik. Dit word met die hulp van die PUK- Kanselierstrust in stand gehou.
  Hy sê hy het in 2003 'n seminaarreeks in Afrikaans oor Afrikaanse taalkunde by die Universiteit van Hasselt in Diepenbeek, België aangebied, en dit het ná verskeie gesprekke die grondslag vir 'n meer formele akademiese kursus in Belgi gelê. Vanaf 2006 word Afrikaans as vak in Antwerpen aangebied, wat vir almal wat daar klasse neem, volgens terugvoer 'n baie verrykende ervaring. Dié ooreenkoms is pas tot 2014 hernu om Afrikaans 'n vastrapplek in België te gee. Dit gee ook aan kollegas in die vakgroep Afrikaans en Nederlands die geleentheid om tyd in Europa deur te bring en sodoende verstrek dit hulle netwerke en akademiese uitsette
  Carstens was as adviseur verder betrokke by die skryf van 'n handboek oor Afrikaanse grammatika by die Universiteit van Gent, waar hy ook reeds verskeie lesings gegee het.
  “Ek het die afgelope vyf jaar, terwyl ek met die boek, Teksredaksie, besig was, baie werk agter die skerms gedoen om Afrikaanse bande tussen Suid-Afrika en die Lae Lande te versterk. Ek het dikwels oor naweke van die klein dorpies ingevaar en voorbrand vir Afrikaans gedoen. Ek kon ook baie werk doen om ’n gesprek oor Afrikaans in die Lae Lande weer aan die gang te kry deur die inisieer van forumgeleenthede en kongresse.”
  'n Ander reuseprojek waaraan Carstens al die afgelope sestien jaar werk, is die digitale bibliografie van Afrikaanse taalkunde. Hy sê dit is van groot waarde vir navorsers in die buiteland omdat inligting oor Afrikaans letterlik met die druk van 'n knoppie bekom kan word.
  Hy vertel met smaak van die besoek aan Amerika by UCLA waar hy 'n klas oor Afrikaans moes gee. Toe hy in Engels wegspring, het die studente hom baie vinnig gestop en gevra om in Afrikaans aan te gaan. Hy was baie verras om te hoor dat hulle die taal goed kon verstaan. So het hy ook al klasse in Kalifornië (Los Angels en Santa Barbara), Utah (Provo), Noord-Carolina (Chapell Hill), Nevada (Las Vegas) en Pennsilvani (State College) aangebied.
  Carstens ook gehelp om 'n Afrikaanse musiek- en kunsfees in Amsterdam op die been te bring. Hierdie fees vind vanjaar van 17-19 Junie in Amsterdam plaas.
  “Afrikaans is nie vir sissies nie. Ek het 'n baie besige lewe met Afrikaans, maar dit is my passie. Ek hoop regtig dat iemand eendag sal terugkyk en sal sê ek het 'n verskil gemaak. Ek dink ek het baie reggekry, maar ek betaal tog maar 'n prys daarvoor, want my liggaam word nou moeg.”
  “Ek gaan oor so sewe jaar aftree en ons gaan dan weer in die Kaap bly. Ek en my vrou, Wilma, van 33 jaar, is albei boorlinge van die Kaap en wil maar teruggaan daarheen.”

 Gepubliseer deur Kiewiet Scheppel op 17 Februarie 2011.