NWU, Potchefstroomkampus, Nuus: Konservatorium vier vanjaar halfeeu

Konservatorium vier vanjaar halfeeu

Vanjaar is dit presies vyftig jaar dat die Konservatorium van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus in gebruik geneem is.  Die Konservatorium is die tuiste van die Skool vir Musiek. 
  Dit is destyds beskryf as die mees moderne in die Unie en die Potchefstroomse Universiteit vir CHO was die eerste universiteit in die land wat sy eie Konservatorium gehad het, waar studente praktiese onderrig in musiek kon ontvang.

Konserv.syaansig 510

Ten spyte van sy kenmerkende moderne argitektuur is die Konservatorium vanjaar vyftig  jaar oud.  Die gebou, op die hoek van Govan Mbeki-rylaan en Meyerstraat is ‘n bekende baken in Potchefstroom.

  Die musiekgeskiedenis van Potchefstroom het egter bykans ’n eeu vantevore begin. Die eerste musiekuitvoering op Potchefstroom waarvan daar rekord is, was op 9 Augustus 1863 toe ’n groep met die naam De Harmonie, wat deur die Nederlander, RA Nispen, en ’n Skotse onderwyser, DJ Forbes, gestig is, ’n konsert aangebied het.  Daar was ’n ambisieuse 21 items op die program.
  In die jare daarna was verskeie musiekverenigings en -onderwysers op Potchefstroom bedrywig.  In 1914 het MM van der Bent en sy vrou, Florence, die Potchefstroom College of Music, gestig wat gehuisves was in ’n gebou in Potgieterstraat (tans Nelson Mandela-rylaan).  Toe die Universiteit dié musiekskool in 1949 koop, was dit een van die belangrikste musiekinrigtings in die Wes-Transvaal.  
  Die Universiteit het reeds vroeër in die veertigerjare musieklesse aangebied.  Teen 1945 het die departement musiek ’n volwaardige plek in die fakulteit lettere en wysbegeerte ingeneem en is dit erken as een van die hoofvakke vir ’n B.A.-graad.  Die voltydse lektor was toe mnr. Jacques Malan.

Konserv.voorkant 360

Met die ingebruikneming van die Konservatorium in 1960 is dit beskryf as die mees moderne een in die Unie en die PU vir CHO was destyds die eerste universiteit in die land wat sy eie Konservatorium gehad het.

  Die lewendige belangstelling in musiek in die gemeenskap van Potchefstroom was een van die redes wat die PU vir CHO oorreed het om die Konservatorium vir praktiese musiek te stig.  Die eerste hoof was ’n bekende en gesogte orrelis, MC (Maarten) Roode, wat onder meer as die amptelike orrelis tydens die ingebruikneming van die Voortrekkermonument in Desember 1949 opgetree het.  Roode het in Julie 1949 diens by die Puk aanvaar.
  Toe daar in 1950 begin is met onderrig by die Konservatorium was daar 307 musiekleerlinge wat deur veertien leerkragte onderrig is. Onder Roode se bekwame leiding het die Konservatorium konstant gegroei. Die Konservatorium en die departement musiek het tot in 1955 onafhanklik van mekaar bestaan en is eers ná die vertrek van dr. Jacques Malan saamgevoeg. 
  Roode het in 1953 professor geword en was drie jaar later in 1956, met die samesmelting, ook die hoof van die departement musiek.  Hy is op sestigjarige leeftyd, saam met sy vrou, in 1967 in ’n motorongeluk in Potchefstroom oorlede.
  In 1955 stig dr. Jacques Malan ’n Collegium Musicum as verlengstuk van die leergang vir musiekgeskiedenis. Die Collegium Musicum het talle konserte deur dosente en studente aangebied en het selfs ’n eie koor gehad.  Konserte is op verskeie plekke in die dorp gehou, onder meer in die hoofgebousaal, die stadsaal en die Totiussaal.
  Die eerste gebou wat vir musiekopleiding gebruik is, was die ou meule op die Oude Molen-terrein. Met die groei van die studentetal is lokale oral in die dorp benut.  Hiervoor is onder meer die ou Teologiese Skool, fasiliteite by naby geleë skole en ’n huurhuis gebruik.
  Verskeie moontlikhede is oorweeg toe die bou van ’n Konservatorium  ter sprake gekom het, onder meer ’n Konservatorium in Potgieterstraat.  Ten spyte van ’n gebrek aan fondse is daar reeds in 1952 met die beplanning van ’n gebou begin.  In dié proses is selfs buitelandse universiteite geraadpleeg.
  Ná deeglike oorlegpleging is daar besluit om die gebou op die Oude Molen-terrein op te rig omdat die verwagte toename in motorverkeer vir uitvoerings slegs daar hanteer sou kon word. 
  Die argitek van die Konservatorium was Johan de Ridder, wat ’n moeilike taak op hande gehad het. 

Konservatorium argitek 510

Hierdie kunstenaarsvoorstelling wys hoe die Konservatorium gelyk het nadat dit in 1960 voltooi is.  Die kunstenaar was CMA Hattingh en die argitek van die Konservatorium was Johan de Ridder.

  Die koste vir die bou vanaf die aanvanklike plan het die begroting ver oorskry en daar is met ’n proses van afskaling begin.  Aanvanklik is die koste op £192 100 beraam, maar daar was net £75 000 beskikbaar. Die Transvaalse Onderwysdepartement sou £10 000 bydra uit erkenning vir musieklesse wat aan skoliere gebied is.
  Die finale planne het voorsiening gemaak vir ’n gehoorsaal met 1 200 sitplekke, 20 klein oefenkamers, twaalf ateljees, vier klaskamers en ’n biblioteek wat ook as diskoteek moes dien, twee orrel-oefenkamers, ’n instrumentepakkamer, drie kantore, ’n personeelkamer, kombuis, kleedkamers en toiletgeriewe.  Die totale koste van £70 610 (wat lugreëling en toebehore uitgesluit het) was egter steeds te veel.
  Ná oorlegpleging is die orkesruimte in die gehoorsaal uitgesluit en is dit tot 350 sitplekke verklein.  Die finale boukoste het £78 000 beloop.
  ’n Plaaslike orrelboufirma, R Müller & Son, het die orrel vir die Konservatorium, wat deur die hoof van die Konservatorium, prof MC Roode, self ontwerp is, gebou.  Die Herald berig op 15 Januarie 1960 dat dié firma ook die orrel vir die Groote Kerk in Kaapstad gebou het.  Die Konservatorium se orrel met sy twee manuale en 26 registers, is later vanweë sy tegniese en artistieke tekortkominge nie meer gebruik nie. In 1992 is dit verwyder en in die Gereformeerde Kerk Wapadrant opgerig.
  Die inwyding van die Konservatorium was ’n groot en belangrike geleentheid vir die Universiteit.  Dit is amptelik deur die kanselier van

MC Roode 90

Prof. MC Roode was vanaf 1949 tot 1967 aan die PU vir CHO verbonde.  Hy was die eerste hoof van die Konservatorium.

die Universiteit, FJ (Frans) du Toit, op 8 April 1960 geopen.  Ses konserte is vroeg in Mei 1960 aangebied as deel van die inwydingsprogram.
  Een daarvan was ’n optrede deur die komponis, Arnold van Wyk, in ’n program wat in geheel uit sy werke bestaan het.  Die SAUK Konsertorkes, onder leiding van Anton Hartman, het ook ’n konsert gehou.  Soliste by hierdie konsert was die bekende sopraan, Cecilia Wessels en Hennie Coetzee (klawesimbel). 
  In 1963 is ’n verdere saal aan die agterkant aangebou en in 1974 is die orrelgehoorsaal en nuwe biblioteek/diskoteek in 1974 as deel van ‘n drieverdiepingvleuel aangebou. 
  Tans huisves die Konservatorium die Skool vir Musiek, soos die ou departement Musiek sedert 2003 bekend staan. Ná ’n rasionaliseringsproses in die negentigerjare is dit aanvanklik as die Afdeling Musiek ingedeel by die Skool vir Tale en Kunste, daarna het dit deel geword van die Skool vir Kunste en in 2003 het dit die Skool vir Musiek geword.
  Fasiliteite by die Konservatorium sluit in die Konservatoriumsaal met 372 sitplekke, waar meeste van die konserte in die Skool vir Musiek se konsertreeks aangebied word. Die orrelsaal met sy barokorrel kan ongeveer 100 mense huisves en word benut vir orreluitvoerings, kooruitvoerings en kleiner kamermusiekkonserte. 
  Die Pretorius-musiekstudio huisves talle antieke stukke en waardevolle Suid-Afrikaanse kunswerke en het sitplek vir tagtig mense.  Benewens die musiekbiblioteek is daar ook twee lesingsale en enkele studio’s, ongeveer dertig oefenkamers, hoofsaaklik toegerus met ’n klavier, terwyl twee oefen-orrels bevat. 
  In die afgelope vyftig jaar was die Konservatorium nie alleen bevoorreg om konserte aan te bied van verskeie wêreldbekende musici nie, maar bestaan die gewese en huidige personeelkorps van die Skool vir Musiek en sy voorgangers uit die voorste musici in Suid-Afrika.

 

 Gepubliseer deur Kiewiet Scheppel op 8 September 2010.