NWU, Potchefstroomkampus, 1951 was n kroonjaar vir die PU vir CHO

1951 was ’n kroonjaar vir die PU vir CHO

Toe die Potchefstroomse Universiteit in 1951, vanjaar sestig jaar gelede, ’n onafhanklike universiteit geword het, was dit rede vir groot feesviering. Victor D’Assonville, 1951 se studenteraadsvoorsitter, beskryf dit as: ”die kroonjaar op die worsteling van ’n hele geslag.”

Die selfstandigwording van die PU vir CHO in 1951 was rede vir groot feesviering. Die amptelike seremonie is op Olënpark gehou en die Herald beskryf in sy verslag oor die geleentheid die kontras van die kleurvolle togas van die hoogwaardigheidsbekleërs teen die groen gras van die rugbyveld.


  Dit het plaasgevind 82 jaar na die stigting van die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk waaruit die universiteit gegroei het.

Alles begin met vyf studente
  Die eerste vyf studente van die Teologiese Skool het op 29 November 1869 op Burgersdorp aangemeld. In 1877 is die literariese departement hieruit gestig, om ook “personen met literarische grade” op te lei wat vir die gemeenskap van nut kan wees, volgens die sinodebesluit wat die stap voorafgegaan het.
  In 1905 het die Teologiese Skool en Literariese Departement van Burgersdorp na Potchefstroom verhuis.  
  Tien jaar later, in 1915, was dit duidelik dat meer doserende personeel nodig was en omdat die Gereformeerde Kerk se middele ontoereikend was, is staatshulp gesoek. 
  Dit is toegestaan, op voorwaarde dat die Literariese Departement skei van die Teologiese Skool. So het die “Het Potchefstroomse Universiteitskollege voor Kristelike Hoger Onderwijs” ontstaan.
  In 1921 is dit as die Potchefstroomse Universiteitskollege, sonder die agtervoegsel “vir Christelike Hoër Onderwys”, by die Universiteit van Suid-Afrika ingelyf.
  Christelike Hoër Onderwys bly ’n ideaal en nadat ’n private wetsontwerp in 1932 deur die Raad van die PUK by die Volksraad ingedien is om die naam te verander na die Potchefstroomse Universiteitskollege vir Christelike Hoër Onderwys, word dit in 1933 aanvaar.

PUK maak ’n gunstige indruk 
  In 1947 verskyn die verslag van die Brookes-kommissie wat moes ondersoek instel na die Universiteit van Suid-Afrika en sy samestellende kolleges, waarvan die PUK een was. Dié verslag s dat die PUK ’n “baie gunstige indruk” op die kommissie gemaak het. Dit só ook dat die universiteit “oor alles beskik waaruit ’n goeie deeglik bestuurde universiteit kan voortkom.”
  Hierdie gunstige verslag gee stukrag aan ’n besluit van die senaat van die universiteit om by die raad aan te beveel dat stappe geneem moet word in die rigting van selfstandigwording.
  Op 24 Januarie 1950 het die parlementslid vir Potchefstroom dr Jan Steyn die wetsontwerp vir die selfstandigwording by die Volksraad ingedien. Kort daarna is dit na ’n gekose komitee verwys.
  ’n Hewige debat volg op 24 Februarie, veral rondom klousule 31 wat stipuleer dat die Raad by die benoeming van personeel moet sorg dra dat die Christelike-historiese karakter van die universiteit gehandhaaf word sonder “denominasionele” toetse.
  Dit is op 28 Maart 1950 finaal in die Volksraad gelees en afgehandel, maar moes nog voor die Senaat dien, wat 25 April 1950 afgehandel is.
  Daarna berig Die Wapad se hoofartikel van 5 Mei 1950 só: “Vir ons rektor, prof. dr. F. Postma, moes dit ’n baie groot dag gewees het, want op dié dag is bekroon die ideaal waarna hy inbesonder, en baie andere saam met hom, vir byna ’n menseleeftyd gestreef het.”

Prof Ferdinand Postma was rektor van die PUK vanaf 1921 tot en met sy dood in 1950, gedurende tydperke waartydens hy die universiteit deur stormwaters moes loods. Sy ywer het die oorlewing van die universiteit verseker en hy het ten spyte van swak gesondheid hom onvermoeid beywer vir die selfstandigwording van die Puk. Die feesviering van Maart 1951 vind plaas enkele maande na sy dood in November 1950.

Blydskap en opwinding
  Op die kampus was die blydskap en opwinding ewe groot en daar is dadelik begin met voorbereidings vir die amptelike en plegtige inwerkingtreding van die wet op 17 Maart 1951.
  Dié opwinding is gedemp toe die rektor van die universiteit prof Ferdinand Postma op 4 November 1950 aan ’n hartaanval sterf. Hy was by uitstek die dryfkrag agter die verwesenliking van die ideaal van selfstandigwording.
  Ten spyte hiervan gaan die planne vir die feesviering die volgende jaar voort onder leiding van dr HJ Bingle, later self rektor van die PU vir CHO.
  Die dae lange fees het op Woensdag 14 Maart begin met ’n noenmaal vir die raad en personeel van die nuwe PU vir CHO. Dié aand volg ’n musiekkonsert in die stadsaal.
  Donderdag het die rektor van die Vrije Universiteit van Amsterdam, en internasionaal gerekende akademikus, prof Herman Dooyeweerd, ’n gedenklesing gelewer.
  Die Herald beskryf hom as “Rector Magnificus, world authority on philosophy”. Dié lesing is in die hoofgebou se saal gehou, wat so vol was dat die studente op die vloer moes sit.
  Vrydag het die studente die dorp op horings geneem met ’n “studentejool”. Vroegmiddag is prof Postma se grafsteen amptelik onthul en daarna het oudstudente voor die hoofgebou gekuier. Vrydagaand volg die laaste gradeplegtigheid onder die vaandel van die Universiteit van Suid-Afrika op Olënpark waartydens digby 300 grade en diplomas toegeken word.
  Die hoogtepunt was Saterdag 17 Maart toe die inkorporasie-seremonie ook hier plaasgevind het.’n Skare van 3 000 was byeen en die seremonie is behartig deur die minister van Onderwys, Kuns en Wetenskap, JH Viljoen. Ander hoogwaardigheidsbeklers was die minister van Justisie, CR Swart, en minister van Naturelle Sake, H.F. Verwoerd, albei promotors van die wetsontwerp.

Die bekende digter en Bybelvertaler, Totius, oftewel prof. J.D. du Toit, was die eerste kanselier van die PU vir CHO en hy het die amp vanaf 1951 met die selfstandigwording van die universiteit tot in 1953 met sy afsterwe beklee. Hier ken hy grade toe in sy kanselierstoga tydens ’n latere gradeplegtigheid.

Kleurvolle togas
  Die Herald skryf só: “The procession from the entrance to the grounds to the pavilion stand to the temporary platform which had been erected for the inauguration ceremony made a colourful scne, the vari-coloured academic hoods and gowns contrasting with the green of the rugby field.”
  Terselfdertyd is die digter en Bybelvertaler, Totius, as eerste kanselier van die universiteit ingehuldig. Hy was nie net ’n oudstudent van die Teologiese Skool waaruit die universiteit gegroei het nie, maar ook een van die groot voorstanders vir die verhuising van die Skool na Potchefstroom, wat in 1905 plaasgevind het. Later was hy ook rektor van die Teologiese Skool.
  Hierna het die stadsraad ’n noenmaal in die stadsaal aangebied en daarna word die hoeksteen van die nuwe biblioteekgebou gelê.
  In die lig van die latere prestasies en groei van die PU vir CHO en later die Noordwes-Universiteit, lyk die onafhanklikheidswording sestig jaar gelede, en die viering daarvan, nie so ’n groot prestasie nie, maar vir diegene wat die Puk sien groei het uit die Teologiese Skool wat begin het met net vyf studente na ’n universiteitskollege en daarna tot by selfstandigwording, was dit werklik ’n kroonjaar.
  Berig deur Lennie Gouws.

 Gepubliseer deur Kiewiet Scheppel op 23 Junie 2011.

facebook%20icontwittermobiiconyoutube