Nomsa Mazibuko

Nomsa Mazibuko

Dinamiese en veelsydige sosialemedia-beïnvloeder

Nomsa Mazibuko gebruik haar eie lewenservaring vreesloos en vasberade om hoop en inspirasie aan ander te bring en om bewustheid van en begrip vir geestesiekte te bevorder.

As oorlewende van depressie en ’n poging tot selfdood, is sy die handelsmerkambassadeur vir die Vaal Instituut vir Geestesiektes en ’n lewensegte rolmodel vir vroue op alle vlakke van die lewe in Suid-Afrika.

Die uitdagings wat Nomsa moes hanteer, het haar nie gekeer om haar lewe voluit te leef nie. Sy het alles gedoen—van televisie en radio-aanbiedings tot motiveringspraatjies, agtergrondstemwerk, en werk as finansiële adviseur en platejoggie in ’n klub.

As Sassa Fierce, ’n dinamiese openbare figuur, het sy al op televisieprogramme soos 3talk with Noleen, YOTV, Generations, Scandal, Kasi Stories en Isidingo verskyn, en in 2018 het sy ses jaar as radio-aanbieder gevier.

Nomsa is die stigter van die Fierce Foundation, wat jong vroue bemagtig deur aan hulle onder andere higiëneprodukte, opvoedkundige programme en loopbaanvoorligting verskaf ten einde hulle eiewaarde te versterk en geslagsgelykheid te bevorder.

Sy het die hutsmerk #SheTalkZa geskep, wat ’n boodskap van susterskap en eenheid onder vroue op die internet versprei. Haar YouTube-kanaal en werfjoernaal het baie gewild geword, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in ander Afrika-lande soos Nigerië, Kenia en Uganda.

Haar musiektalent en charisma het al vir talle toekennings gesorg.

Nomsa het ’n BA-graad in Kommunikasiestudie aan die Noordwes-Universiteit behaal en studeer tans vir ’n honneursgraad aan die Universiteit van Suid-Afrika.