Printer-friendly version
Druk
Share this
 

GEMEENSKAPSVERBINTENIS

Oor ons

Die Noordwes-Universiteit is ’n integrale deel van die plaaslike gemeenskap. Ons poog om op verskillende maniere ’n positiewe bydrae aan Noordwes en sy inwoners te lewer. Dit sluit in om vrywillig by projekte in plaaslike gemeenskappe betrokke te raak, ’n bydrae te lewer aan besluitnemingsliggame wat die gemeenskap dien, en navorsing te doen wat mense se lewens verander. Ons werk nou saam met die stadsrade en ander agentskappe om te kyk hoe ons tot almal se welstand kan bydra.

Ons is betrokke by ’n wye verskeidenheid mense en organisasies in Mafikeng, Potchefstroom en die Vaaldriehoek, asook op streeks- , nasionale en internasionale vlak. Dit sluit skole, regerings en spesiale belangegroepe in.

Gemeenskapsverbintenis word omskryf as menseontwikkelingsaktiwiteite wat personeel en studente van die universiteit beoefen om behoeftige sektore van die samelewing en/of individue op te hef. Hoewel die universiteit soms fondsinsamelingsveldtogte hou wat help om vir hierdie aktiwiteite te betaal, of nominale koste vir direkte projekkoste hef, onderneem hy nie gemeenskapsverbintenisaktiwiteite op ’n kommersiële grondslag nie. Die NWU wil dus met ander woorde nie wins uit gemeenskapsverbintenis maak nie.

Aktiwiteite sluit in:

* Gemeenskapsdiens, soos die Wetenskapsentrum, MIV/Vigs-projekte, Studente Jool, Regsklinieke en talle navorsingsverwante projekte.
* Ontwikkelingsaktiwiteite met ’n werwingsfokus, soos Wetenskaps- , Ingenieurs- en sportweke, sowel as kultuuraktiwiteite.
* Professionele raadgewende dienste, insluitend navorsings  en professionele advies vir die plaaslike, provinsiale en nasionale regering.
* Gesubsidieerde ontwikkelingsbetrokkenheid, insluitend praktykopleiding vir studente wat Verpleegkunde, Maatskaplike Werk, Onderwys, ensovoorts studeer.


* Boodskap van die Institusionele Direkteur: Gemeenskapsverbintenis

As deel van die vervulling van ons roeping as mens, het ons almal ’n behoefte aan geestelike groei en hierdie groei kan slegs plaasvind as ons meer as ons deel bydra. Universiteite is gedugte katalisators en leiers van verandering in ons samelewing. Mnr Nelson Mandela het eens gesê onderwys is die kragtigste wapen wat ’n mens kan gebruik om die wêreld te verander.

Die primêre taak van die Gemeenskapsverbinteniskantoor is om ’n verskil te maak deur ons samelewing op te hef, te ontwikkel en te ondersteun. Ons reik uit na ons gemeenskap op maniere wat vertroue bou en aan mense en organisasies die vrymoedigheid gee om ons om hulp te nader.

Vir ons beteken ’n verskil nie net om by verdienstelike sake betrokke te raak nie; dit gaan oor die toepassing van ons kundigheid op ’n innoverende wyse om volhoubare verbetering in ons samelewing teweeg te bring. Wanneer ons ons hulpbronne orden, volg ons ’n holistiese benadering wat interdissiplinêre en kruisdissiplinêre deelname bevorder. Ons hoop ook om ons pogings in Suid-Afrika en die streek deurentyd uit te brei – om so ’n verskil te maak, ons roeping te vervul en deernis, respek en kennis te versprei.

Die Gemeenskapsverbinteniskantoor is baie dankbaar vir elke bydrae tot dusver. Ons moedig ons kollegas en bydraers aan om ons oor enige aangeleentheid rakende gemeenskapsverbintenis te kontak sodat ons saam kan verseker dat die NWU ’n gekose vennoot in maatskaplike betrokkenheid word.

Me Beatrix Bouwman
Institusionele Direkteur: Gemeenskapsverbintenis