
Bloeddruknavorsing skiet die hoogtes in
Potchefstroomkampus - Dubbeld soveel swartmense as witmense sterf aan bloeddrukverwante siektes soos beroerte. Nog ‘n skokkende feit is dat sowat 70% van swart, manlike onderwysers, aan hoë bloeddruk ly.
Volgens prof Alta Schutte, direkteur van die Hipertensie in Afrika Navorsingspan (HART) aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, is bloeddruksiektes by dié rassegroep, ‘n tendens wat nou kommerwekkend toeneem. “Dit is ‘n tendens wat nou aandag moet geniet. Daarom het die universiteit pas ‘n hipertensiekliniek op die been gebring, wat binnekort amptelik geopen sal word. Hier sal ons op verskeie aspekte van hipertensie spesialiseer. Die span sal hoogs gespesialiseerde navorsingprojekte aanpak. Vroeë opsporing en voorkoming van hipertensie asook die bewusmaking daarvan sal aandag geniet.”
Die Nasionale Navorsingstigting het aangekondig dat hulle R12,5 miljoen oor vyf jaar aan dié navorsingsarea sal bestee. “Ons is verheug oor dié fondse wat beteken dat ons navorsing nou na nuwe hoogtes geneem kan word. Dit bied ook die geleentheid vir heelwat meer nagraadse studente wat hul studies en navorsing verder wil voortsit,” sê prof Alta.
Prof Alta meen dit is algemeen bekend dat verstedeliking en verwestering, met al die gepaardgaande faktore, die hoofrede is vir die toename in bloeddrukverwante siektes by swartmense. Sy lys die faktore as die toename in ongesonde kos, vrye beskikbaarheid van alkohol, sigarette en ‘n stresvolle lewensstyl. “Boonop het hierdie verstedeliking oor 'n baie kort tyd van minder as 100 jaar plaasgevind - waar dit by die wit bevolking oor eeue plaasgevind het. Dan is daar ook aanpassings in die niere met betrekking tot die gebruik van sout. Swartmense is geneig om sout-sensitief te wees, wat beteken dat die niere meer sout terughou wat ‘n toename in bloeddruk veroorsaak.”
Hul beplande navorsing behels onder andere dat verskeie mense vir bloeddrukverwante siektes getoets sal word, waarna hulle jaarliks opgevolg sal word. “Hierdeur wil ons presies bepaal watter fisiologiese veranderinge met die ontwikkeling van hoë bloeddruk, oor tyd, plaasvind. Dié inligting kan ons dan weer gebruik vir die voorkoming van die siekte en deur intervensies uit te voer."
‘n Kollega van prof Alta, prof Leone Malan, het op haar beurt weer bewys dat die onderwysberoep meer vatbaar is vir siektes soos hoë bloeddruk, tipe 2 diabetes en depressie. “Kwellings soos toenemende druk, veranderinge in die kurrikula, onderwyser-leerderverhoudings, dissiplinêre probleme, geweld in skole asook uitdagende streshanteringsvermoëns met betrekking tot prestasie, staan hier soos ‘n paal bo water uit.”
Prof Leone sê ’n gebrek aan effektiewe streshanteringsvaardighede het ‘n reuse impak op die onderwyser se algemene gesondheid. “Die onderwyser kan dus sielkundig probeer om die situasie te hanteer maar sy liggaam ervaar ’n gevoel van hulpeloosheid of oorgawe. Die gevolg kan uitbranding en lewensstylsiektes laat ontstaan.”
|
|
|
|
|
Prof Alta Schutte |
Prof Leone Malan |


