
Franco se pad na die Curriebeker-kroon
Sy vorm het begin ineenstort, sy span het gespartel en die Leeus se aanvoerder, Franco van der Merwe, het besef dat hy die kapteinskap van die Super Rugby-span, wat in Johannesburg gebaseer is, sou moes afstaan of sy plek in die wedstryd-vyftiental verloor.
Teen die einde van Maart het Van der Merwe uitgetree en die leisels aan die senter, Doppies la Grange, oorhandig en gesê dat aan sy eie spel moet werk.
As 'n mens die woorde van sy voormalige afrigter by die NWU-PUK en Luiperds, Jacques Swanepoel, in ag neem, kry 'n mens 'n idee hoe moeilike hierdie rateltaai voorspeler se besluit moes wees.
|
Franco van der Merwe. Foto deur Mark Kolbe/Getty Images AsiaPac. |
"Franco was nog altyd 'n leier, dit is wie hy is. Ek onthou die een geleentheid toe ek die NWU-PUK-span na 'n weermagkamp by die Potchefstroom se Artilleriebasis gevat het.
"Hulle vir twee aande buite op die terrein geslaap. Dit was 'n besonders strawwe kamp wat werklik die manne getoets het. Ons het spelers soos Naas Olivier, Ronnie Cooke en Barry Geel in die span gehad en dit was merkwaardig om te sien hoe Franco as 'n leier uitgekom het. Hy is deur en deur 'n kaptein," verduidelik Swanepoel.
Die besluit het hom tot in sy siel gepla, maar Van der Merwe het besef dat sy ander eienskappe, dit wat hom in die eerste plek onder die Leeus se aandag gebring het en van hom 'n steunpilaar in die span gemaak het, stadig besig was om weg te roes en dat sy spel toenemend alledaags begin raak het.
Swanepoel: “Franco se atletiese vermoëns en intellek het nog altyd sy spel gekenmerk. Die spelers het hom voortdurend geprys vir sy werksetiek op en van die veld en hy het 'n ongelooflike verantwoordelikheidsin."
Dit was hierdie verantwoordelikheidsin, sy onwrikbare geloof in wat die beste vir die span is, wat hom tot die slotsom laat kom het dat hy meer werd vir die Leeus sal wees as 'n speler wat op sy hoogtepunt is as 'n kaptein wat in derde rat is.
Dit was 'n nugter benadering wat, vir diegene wat Van der Merwe ken, as geen verrassing gekom het nie: die lang en skraal slot se verstand is vlymskerp. Terwyl hy vir die NWU-PUK gespeel het, het hy sy honneursgraad in mensehulpbronbestuur voltooi en is hy aangewys as die NWU-PUK-Rugbyinstituut se dux-speler van die jaar vir sy toewyding aan sy studies en hy was ook die primaria van sy koshuis, Over de Voor.
Swanepoel onthou egter 'n voorval toe Van der Merwe in sy eie bekwaamheid getwyfel het.
"Ons het teruggery van Rustenburg nadat ons sleg teen die Bulle verloor het toe Franco na my toe draai en sê: 'Coach, ek dink nie ek gaan dit as 'n speler maak nie. Miskien moet ek rugby los en uitkyk vir 'n werk.'
"Ek sê toe vir hom: "Franco, jou beurt sal kom. Jy is amper daar.' Ek sal nooit daardie oomblik vergeet nie."
Voor 60 000 geesdriftige ondersteuners in 'n stampvol Coca-Colapark, was Van der Merwe se voorneme om op sy persoonlike spel te fokus beloon toe die Leeus die Curriebeker gelig het na die Haaie met 42 -12 verniel is.
Dit was 'n besliste wen en Van der Merwe se knap vertoning het bygedra om die beker vir die eerste keer sedert 1999 terug te kry.
" Dit was ongelooflik, daar was so baie emosies. Dit was die verwerkliking van 'n droom. Ek is sedert 2006 by die Leeus betrokke en in 2007 het ons naby gekom, maar om die Curriebeker te wen is 'n gevoel op heel ander vlak," verduidelik Van der Merwe.
"Ons het goed voorgeloop tydens die wedstryd en ons het geweet dat die Haaie nie weer sou kon terugkeer nie, maar dit het eers tot ons deurgedring toe die eindfluitjie geblaas het.
"Ons was in vervoering, ons het geskreeu en mekaar gegryp, dit was net wonderlik en selfs meer om dit op 'n volgepakte Coca-Colapark te doen. Ek dink dit was ons beste wedstryd van die seisoen. So baie mense het gedink ons kan dit nie doen nie en ons het hulle verkeerd bewys."
Van der Merwe het John Mitchell wat die Leeus se transformasie bewerkstellig het se lof besing.
"Hy is 'n wonderlike tegniese afrigter wat regtig op detail fokus. Sy verdediging- en aanvalstruktuur is navolgenswaardig. Hy is 'n holistiese afrigter, op en van die veld, wat die dissipline en passie na die Leeus toe teruggebring het.
"En as hy iets wil hê, sal hy seker maak dat hy dit kry."
Na 'n rampspoedige 2010-Superrugbyveldtog toe die Leeus al 13 van hulle wedstryde verloor het, het Mitchell Dick Muir as afrigter opgevolg en nie tyd gemors om skoon te maak nie.
"Aan die begin van die Curriebeker verlede jaar het ek na die span gekyk en omtrent niemand herken nie. Daar was 'n paar bekende gesigte soos Doppies (la Grange) en Baywatch (Cobus Grobbelaar), maar so baie vars en onbekende gesigte. “
Die Leeus het die span laat deurskemer wat die 2011-Curriebeker sou domineer, ten spyte van die gebrek aan konsekwentheid.
"Ons draaipunt, dink ek, het in Sydney tydens die Super 15 gekom. Die groep het saamgekom en gesê dat ons nie so kon voortgaan nie. Ons het beklemtoon dat ons behoorlike rugby moes speel en ons het 'n paar wedstryde gewen. Teen die begin van die Curriebeker was ons selfvertroue daar en ons het gewoon goed begin saamwerk as 'n span wat in mekaar glo.
"Ons het 'n groot oorwinning teen Griekwas in Kimberley behaal wat ons baie momentum gegee het en ek dink die finale produk was in die finaal ten toon gestel.
"Baie mense het gedink dat, met die Springbokke terug, ons nie 'n kans sou staan nie, maar ons het genoeg vertroue gehad en het ons het mekaar gesteun. “
En op mekaar gesteun het hulle, hulle het 'n vertoning van absolute oorheersing teen 'n span met 16 internasionale spelers in hul 22-tal gelewer.
"Dit is ongetwyfeld die hoogtepunt van my loopbaan, naas die wedstryd vir die Opkomende Springbokke in 2009 toe ons gelykop teen die Britse en Ierse Leeus in Kaapstad gespeel het nadat Willem de Waal 'n doelskop van die kantlyn in die bykomende tyd oorgestuur het. En by die NWU-PUK het ek en Clayton Durand (sy voormalige NWU-PUK- en Luiperdspanmaat Overs afgerig toe ons die NWU-PUK se koshuisliga gewen het."


