Maggy-Emelia Maliti-Ntshwe

Maggy-Emelia Maliti-Ntshwe

Dinamiese entrepreneur skep werk

Maggy-Emelia Maliti-Ntshwe se innoverende entrepreneursvaardighede het vir jongmense, veral jong vroue, in die Mahikeng-gemeenskap broodnodige werksgeleenthede verskaf.

Hierdie onverskrokke entrepreneur tel talle eerstes onder haar prestasies. Haar sakevernuf het daartoe gelei dat sy die eerste kosafleweringsdiens in Mahikeng begin het, waarna sy nog ’n eerste op haar kerfstok geplaas het – ’n eksklusiewe haarsalon vir kinders. Die Starz N’ Angels Kiddies Hair Salon is so gewild dat sy onlangs ’n tweede tak van die salon geopen het.

Maggy-Emilia is altyd op die uitkyk vir ’n uitdaging en het in 2013 die mede-eienaar van die luuksemeubelvervaardiger Hands of RU Furniture Manufacturers in Mahikeng geword.

Die maatskappy werk saam met binnenshuise versierders, argitekte en kliënte regoor die vasteland van Afrika. Sy bou brûe met klein plaaslike spelers in die vervaardigingsbedryf, terwyl sy ook haar stempel onder internasionale verskaffers van leer, materiaal en hout afdruk.

Haar vasberadenheid het haar gehelp om talle uitdagings te oorkom in die vervaardigingsbedryf, wat deur mans oorheers word, en dit maak haar meer passievol om ander jong vroue te bemagtig.

Die gemeenskap lê Maggy-Emilia baie na aan die hart. As ’n filantroop soek sy voortdurend geleenthede om ’n verskil in die lewe van jongmense te maak deur motiveringspraatjies te hou en konferensies te reël.

Sy het haar loopbaan as ’n bemarkings- en kommunikasiekundige begin en het meer as tien jaar ervaring in ’n wye spektrum bemarkings- en verkoopsrolle.

Maggy-Emilia het in 2019 ’n meestersgraad in besigheidsadministrasie (MBA) aan die Noordwes- Universiteit verwerf, en ’n BA-graad in Kommunikasie aan die Universiteit van Suid-Afrika.