Johan van Rensburg

Johan van Rensburg

Musiekpromotor en televisievervaardiger

Johan van Rensburg se naam was vir baie jare sinoniem met die legendariese Afrikaanse musiekvasvraprogram Noot vir Noot, en hy speel steeds ’n belangrike rol in die bevordering van musiek in Suid-Afrika.

As regisseur van Afrikaanse ligtemusiek-verskeiden-heidsprogramme by die destydse SAUK TV1 het hy talle Afrikaanse vermaakprogramme vir plaaslike televisie vervaardig, onder meer bekende programme soos Platepraatjies, Teletreffers en Debuut. Hy was vir meer as ’n dekade die medevervaardiger van Noot vir Noot en was ook ’n gewilde teenwoordigheid in die program se musiekgroep, die Musiekfabriek.

Johan was in 1968 ’n lid van die studenteraad van die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO). Hy het ’n BMus- en BMusHons- graad aan die PU vir CHO verwerf. Sy werk as musiekregisseur van die gewilde Alabama Studente­groep het in 1967 tot die eerste Revue-program gelei. Johan het tot in 1973 in hierdie rol aangebly, waarna hy tot 1980 die regisseur was.

Johan is in 1980 as vervaardiger en later as spesialis­vervaardiger van Afrikaanse verskeidenheidsprogramme vir ligte musiek op die SAUK se TV1-kanaal aangestel.

Johan en sy sakevennoot en mede-televisiepersoon­likheid Johan Stemmet het in 1989, nadat hy by die SAUK weg is, Stemmburg Televisie BK begin.

Hy het al verskeie toekennings ontvang, waaronder die NWU Kanseliersmedalje vir sy bydrae tot die bevordering van Afrikaanse kulturele aktiwiteite en sy verbintenis van 50 jaar met die NWU.