Printer-friendly version
Druk
Share this
 

Hanli Stapela sluit by die NWU se Skool vir Musiek aan

Potchefstroom – Die toenemende aanvraag na sangonderrig by die Skool vir Musiek,Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) het genoodsaak dat 'n derde voltydse sangdosent aangestel moes word.

Die bekende Suid-Afrikaanse sopraan, Hanli Stapela, word vanaf die begin van die tweede semester in Julie by die Konservatorium verwelkom.

Me Stapela het sedert die begin van haar professionele loopbaan in 1990 in veral Suid-Afrika en Europa opgetree. Vanaf 1997-2003 was sy ook in die VSA woonagtig en werksaam as sopraan.

Sy is bekend vir die vertolking van hoofsaaklik tragiese rolle in operas soos "La Traviata", "Rigoletto", "Madama Butterfly", "La Bohème" en "Lucia di Lammermoor", sowel as verskeie rolle in Mozart-operas. Hierbenewens het sy ook reeds opgetree in 'n DVD-opname, nege CD-opnames en verskeie televisie-uitsendings van opera en simfonie-konserte.

Sy het die SAA Outstanding Young Artist Award ontvang vir oorsese studie sowel as twee FNB Vita-toekennings en die Opera South Africa-prys.

Sedert haar terugkeer na Suid-Afrika, het sy sangonderrig gegee by die Tshwane Universiteit van Tegnologie, Universiteit van Pretoria en Wits Universiteit, voordat sy die betrekking by NWU aanvaar het.

Me Stapela sê dat sy opgewonde is om voortaan verbonde te wees aan die Skool vir Musiek met sy wye reputasie vir goeie sangonderrig, en sy sien daarna uit om saam met haar nuwe kollegas te werk, veral die ander twee sangdosente, me Santisa Viljoen en dr Conroy Cupido.

Gepubliseer deur: Pertunia Thulo
                                 20 Julie 2011