Printer-friendly version
Druk
Share this
 

Alumni – Nuwe mylpale word in Botswana bereik

Mafikeng – ’n Rekordgetal van 300 alumni van die Mafikengkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) het onlangs ’n galadinee by die Gaborone Sun-konferensiesentrum in Gaborone, Botswana bygewoon.

Me Susan van Rooyen, Waarnemende Bestuurder: Bemarking en Kommunikasie, het die alumni verwelkom en hulle verseker dat die Universiteit trots is op hulle buitengewone prestasies en die leidende rolle wat hulle in Botswana speel. “Alumni is ambassadeurs vir en vennote van hierdie universiteit en ons wil hê u moet betrokke bly by u alma mater,” het me Van Rooyen gesê.

Prof Dan Kgwadi, Kampusrektor, het sy vreugde uitgespreek oor die getal Botswana-alumni wat steeds in hulle alma mater glo, en hulle genooi om die Kampus te besoek en ’n meer aktiewe rol te speel om die huidige studenteleiers te mentor deur hulle kundigheid beskikbaar te stel.

Die Rektor het die alumni ingelig dat die Kampus in 2008 deur onluste geteister is en dat die situasie nou onder beheer is.

“Danksy ’n suksesvolle herstelplan wat in werking gestel is, is die akademiese jaar gered en studente kon hulle eindeksamen sonder onderbrekings aflê,” het hy verduidelik. Prof Mogege Mosimege, Viserektor: Akademies, het die gehoor op hoogte gebring van akademiese sake, terwyl die alumni vir mnr Joseph Sathekge, Bestuurder: Studentesake, hartlik verwelkom het. Dit was duidelik dat hy vir hierdie voormalige studente tydens hulle verblyf op die Kampus ’n vaderfiguur was.

Mnr Louis Jacobs, Direkteur: Korporatiewe Kommunikasie, het die Visekanselier verteenwoordig. Hoogtepunte wat mnr Jacobs genoem het, het die Universiteit se eerste plek in die 2008 PriceWaterhouseCoopers-toekenning vir uitnemende korporatiewe bestuur in hoër onderwys, die toekenning deur die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad vir die grootste bydrae tot veeltaligheid en nasiebou oor die afgelope tien jaar in die hoëronderwyssektor in Suid-Afrika, asook die NWU se benoeming deur die Departement van Wetenskap en Tegnologie as die mees progressiewe tegnologies-innoverende universiteit in Suid-Afrika ingesluit.

Onder die glansfigure wat die geleentheid bygewoon het, was voormalige SR-voorsitters en -lede mnre Friday Leburu, Mpho Mfoloe, Treasure Mothobi en Tefo Kebabope.

Aktiwiteite is afgewissel met melodieuse uitvoerings deur die kulturele dans- en sanggroep van Botswana, Matsosangwao. Mnr Chillie Samtisi, bestuurder en stigter van hierdie groep en ook ’n voormalige student van hierdie Universiteit, het die vermaak vir die gala-aand geborg.

 IMG_7105

IMG_7145

IMG_7139