Printer-friendly version
Druk
Share this
 

Onderwysprogram een van bestes ter wêreld

POTCHEFSTROOM - Buitelandse evalueerders het die programme in die Skool vir Voortgesette Onderwysersopleiding van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus as “selfs beter as soortgelyke kursusse van baie universiteite in die wêreld” aangeslaan.

Proff. Frank Banks en Peter Knight van “The Open University” in die Verenigde Koninkryk, een van die grootste afstandonderrig-instansies in die wêreld, het gesê daar is nie ʼn gelyke vir die program in Suid-Afrika nie.

Die Skool vir Voortgesette Onderwysersopleiding (SVOO) bedien tans sowat 18 000 onderwysers in die land en Namibië. Die doel van die program is om ongekwalifiseerde of ondergekwalifiseerde onderwysers minstens tot op ʼn driejaar-opleidingsvlak ná matriek te neem.

Die direkteur van die SVOO, prof Manie Spamer, sê hulle volg 'n oop-leer-model van onderrig. Daar is wel 'n minimum en maksimum tydperk van leer, maar onderwysers kan inskryf wanneer hulle wil.

Die reusetaak word deur 36 studiesentrums regoor die land, 26 voltydse dosente en 195 administratiewe personeel vermag. Die SVOO het twee medewerkers in die “Open Learning Group” Johannesburg en die “Institute for Open Learning” in Namibië. Dié instansies verskaf die ondersteunende administratiewe werk vir die program.

“Ons het egter nie geweet of die program aan internasionale standaarde voldoen nie, en het die twee professore van die VK genooi om die evaluering te doen,” sê prof Spamer.

Die professore het in hulle opsomming van die evaluering gesê die SVOO was baie “dapper” om hulle as senior lede van een van die beste afstandonderrig-instansies in die wêreld te nooi om die program te evalueer. “Die dapper besluit het egter vrugte afgewerp, want ons is beïndruk. Ons algehele bevinding is dat die NWU se programme Suid-Afrikaanse voorskrifte oortref en selfs beter is as soortgelyke kursusse van baie universiteite in die wêreld,” is die paneel se mening.

Volgens prof Spamer het die SVOO verlede jaar 'n kontrak met die Noordwes Onderwysdepartement gesluit om 30 000 onderwysers op te lei. “Ons het ook al 'n soortgelyke kontrak met die Departement in Mpumalanga gesluit.”

 ProffSpamerxCombrinkxLowesxNightxBanks

FOTO: Van links is proff Manie Spamer, Direkteur van die SVOO, Annette Combrink, Rektor van die Potchefstroomkampus van die NWU, Mariëtte Lowes, Viserektor van die Potchefstroomkampus, Peter Knight, Direkteur van die Instituut vir Opvoedkundige Tegnologie by The Open University in die VK, en Frank Banks, Direkteur van die Sentrum vir Navorsing en Ontwikkeling in Onderwysersopleiding, ook van The Open University.