
Noordwes-Universiteit gee die toon aan vir Suid-Afrikaanse universiteite in die ontwikkeling van sagteware vir hoër onderwys
Institusionele Kantoor - Die Noordwes-Universiteit (NWU) het onlangs as ontwikkelingsvennoot by die Kuali Student-inisiatief aangesluit. Die Universiteit is nou die eerste volwaardige vennoot buite Noord-Amerika, en bring sterk funksionele en tegniese kundigheid na die projekspan.
Die NWU het hierdie stap geneem om te help met die ontwikkeling van die oopbron-Kuali Student-stelsel, ? besigheidstelsel vir universiteite. Kuali is ? groeiende gemeenskap van universiteite, kolleges, sakeondernemings, en ander organisasies wat ? vennootskap aangegaan het om gemeenskapsbronsagteware VIR hoër onderwys DEUR hoër onderwys, te bou en in stand te hou.
Die Universiteit se belegging sal aangewend word saam met die beduidende bydraes van die ander vennote, insluitende Indiana-Universiteit, Carnegie Mellon Universiteit, Naval Postgraduate School, San Joaquin Delta Kollege, Universiteit van Kalifornië Berkeley, Universiteit van Maryland, Universiteit van Suid-Kalifornië, Universiteit van Washington en Boston Kollege.
“Die Noordwes-Universiteit is bevoorreg en opgewonde om deel te neem aan die ontwikkeling van Kuali Student, en oor die geleentheid om internasionaal met instansies van daardie kaliber te kan saamwerk,” sê dr Theuns Eloff, Visekanselier van die NWU. “Ons beskou dit as ? wen-wen-geleentheid vir alle deelnemers om innoverende, kostedoeltreffende besigheidsoplossings vir hoër onderwys te vind. Hierdie inisiatief sal ons visie van plaaslike betrokkenheid, nasionale relevansie en internasionale erkenning bevorder.”
Volgens mnr Bill McLean, Voorsitter van die Kuali Student Board, is die Kuali Student-gemeenskap verheug om die NWU as die eerste Suid-Afrikaanse spanlid te verwelkom. “? Belangrike ontwikkelingsfase is pas bereik, en hul deelname verbreed die internasionale teenwoordigheid van die Kuali Student-projek. Ons is baie gelukkig om juis op dié tydstip ? vennoot soos die NWU te kan bykry, en ons sien daarna uit om met ons NWU-kollegas te kan saamwerk.”
Die Noordwes-Universiteit is ? werklik diverse, multikampusuniversiteit wat daarna streef om ? gebalanseerde onderrig-leer- en navorsingsinstelling te word. Wat studentegetalle aanbetref, is dit die vierdegrootste universiteit in Suid-Afrika, met meer as 55 000 ingeskrewe studente. Die NWU ken jaarliks tussen 12 000 en 13 000 grade en diplomas toe.
Behalwe vir verskeie toekennings soos die gesogte prys vir die Mees Innoverende Universiteit in Suid-Afrika, geborg deur die Departement van Wetenskap en Tegnologie se Innovasiefonds in 2008, het die NWU die toekenning vir die bes bestuurde hoëronderwysinstansie (PricewaterhouseCoopers-toekenning) in 2010 reeds vir die vierde agtereenvolgende jaar ontvang. Meer inligting oor die NWU kan gevind word by http://www.nwu.ac.za/nwu/glance.html.
Die sagteware van Kuali-projekte is vryelik beskikbaar onder die Opvoedkundige Gemeenskap-lisensie aan enigiemand vir enige gebruik of wysiging. Meer inligting oor Kuali is beskikbaar by http://www.kuali.org.
Uitgereik deur: Mnr Louis Jacobs, Direkteur: Korporatiewe Kommunikasie,
Institusionele Kantoor,
Noordwes-Universiteit
Navrae: Mnr Attie Juyn, Hoofdirekteur: Inligtingstegnologie,
Institusionele Kantoor,
Noordwes-Universiteit
018-299 4615 of 082 801 5451
Datum: 1 Februarie 2011


