
Drie werknemers verloor saak teen Noordwes-Universiteit (NWU)
Mafikengkampus– Drie voormalige werknemers van die NWU Mafikengkampus was onsuksesvol met ? hersieningsaansoek wat hulle by die Arbeidshof teen die Universiteit aanhangig gemaak het.
Thabo Molelekeng, Tabane Matshego en Kitchener Semuli was onderskeidelik die Voorsitter en 1ste en 2de Ondervoorsitters van die Personeelvereniging. Hulle is op 7 Januarie 2007 deur ? dissiplinêre komitee van die Universiteit skuldig bevind aan growwe insubordinasie en/of enige ander daad wat daarop gemik is om gesag uit te daag in die teenwoordigheid van ondergeskiktes, en onvanpaste taalgebruik en opmerkings. Die dissiplinêre verhoor het gespruit uit ? ongemagtigde en onbeskermde betoging wat op 22 November 2006 plaasgevind het.
Die dissiplinêre komitee se beslissing is verwys vir interne hersiening, maar die hersieningskomitee het die beslissing gehandhaaf, waarna die werknemers se dienste by die Universiteit beëindig is. Die voormalige personeellede het toe die Hoë Hof van Bophuthatswana en die Komitee vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) genader vir ? bevel om die dissiplinêre komitee se beslissing te hersien en ter syde te stel, maar die Universiteit het die aansoeke suksesvol teengestaan.
Hulle het hulle uiteindelik tot die Arbeidshof gewend. Hierdie hofaansoek is eweneens deur die Universiteit teengestaan en op 1 Desember 2009 het ook dié Hof ten gunste van die Universiteit beslis. Die werknemers en die Personeelvereniging, wat ? party was in die saak, is beveel om die Universiteit se regskoste te betaal.
Uitgereik deur die Rektor van die Noordwes-Universiteit se Mafikengkampus, Professor Dan Kgwadi.
Navrae: Koos Degenaar, Direkteur Bemarking en Kommunikasie, Mafikengkampus
Noordwes-Universiteit
0795198283, e-pos: 10069038@nwu.ac.za
Datum: 9 Desember 2009


