
Rektore aangestel vir Potchefstroom- en Vaaldriehoekkampus: Noordwes-Universiteit (NWU)
Institusionele Kantoor – Die Raad van die Noordwes-Universiteit het tydens ’n vergadering op 20 November 2009 die aanbevelings van die Onderhoudskomitee van die Raad aanvaar en die aanstelling van die twee rektore vir die Potchefstroom- en Vaaldriehoekkampus goedgekeur.
Professor Herman van Schalkwyk, tans Dekaan van die Fakulteit Natuur- en Landbou-wetenskappe aan die Universiteit van die Vrystaat, is as Rektor van die Potchefstroomkampus aangestel vir ’n termyn van ses jaar.
Professor Thanyani Mariba, tans Dekaan van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit van Pretoria, is as Rektor van die Vaaldriehoekkampus aangestel vir ’n termyn van vyf jaar, gesien in die lig daarvan dat prof Mariba aftree-ouderdom sal bereik in vyf jaar.
Mnr Peet van der Walt, Voorsitter van die NWU-Raad, het beide professore gelukgewens met hul aanstellings. Hy het aangedui dat die vaardigheidsvlak van al die kandidate baie hoog was en dat die Raad volle vertroue het in die keuses wat gemaak is. Hy het ook beklemtoon dat die nuwe rektore ’n baie belangrike rol sal speel in die NWU se voortgesette strewe om hom as ’n toonaangewende universiteit te posisioneer.


Proff Herman van Schalkwyk en Thanyani Mariba
In sy kommentaar het dr Theuns Eloff, Visekanselier, gesê met dié twee aanstellings betree die NWU in wese die post-samesmeltingsfase. “Ons neem afskeid van die eerste senior bestuurslede wat die samesmelting laat werk het en kry twee leiers wat nie van die begin af betrokke was nie en wat nuwe bloed na die NWU bring.” Hy het bygevoeg dat dit noodwendig nuwe denke en innovasie sal bring, iets wat die Universiteit sterk onderskryf deur sy leuse “Innovasie deur diversiteit”.
Navrae: Louis Jacobs, Direkteur: Korporatiewe Kommunikasie, Institusionele Kantoor, Noordwes-Universiteit
Noordwes-Universiteit
(018) 299 4918 / 082 901 6435
Datum: 20 November 2009


