Printer-friendly version
Druk
Share this
 

Noordwes-Universiteit weer eens die universiteit wat die beste bestuur word

Vir die derde agtereenvolgende jaar is die Noordwes-Universiteit (NWU) se verbintenis om die beste praktyk in doeltreffende en korporatiewe bestuur te handhaaf, op 25 Augustus erken toe die Universiteit weer die 2009 PriceWaterhouseCoopers Hoëronderwys Uitnemendheidstoekenning vir Korporatiewe Bestuur tydens hulle jaarlikse Konferensie oor Hoër Onderwys in Port Elizabeth ontvang het.

Die NWU en die Sentrale Universiteit vir Tegnologie Vrystaat was in 2007 gesamentlik eerste. In 2008 het die NWU met die eer weggestap, en nou in 2009 is die NWU weer aangewys as die Universiteit in die Suid-Afrikaanse hoëronderwys-sektor wat die beste bestuur word.

"Hierdie toekenning demonstreer dat die stabiliteit en sukses van hierdie Universiteit as ’n saamgesmelte instelling beslis waardeer word in die hoëronderwyssektor en verder, en is net nog ’n stap in die posisionering van die NWU as ’n toonaangewende universiteit," sê dr Theuns Eloff, Visekanselier.

Hy het bygevoeg dat omdat ons ons kernbesigheid met goeie en doeltreffende korporatiewe bestuur ondersteun, ons ook groei ervaar in ons kernbesigheid, naamlik onderrig-leer, navorsing en die implementering van kundigheid.

Die kompetisie word jaarliks gehou en wil hoër onderwysinstellings aanmoedig om die hoogste standaarde in korporatiewe bestuur en voldoening aan die goeie bestuurspraktyke van die 2002 King II-verslag oor Korporatiewe Bestuur in Suid-Afrika, na te streef. Hierdie verslag beklemtoon sewe beginsels van goeie bestuur, naamlik dissipline, deursigtigheid, onafhanklikheid, aanspreeklikheid, verantwoordelikheid, regverdigheid en maatskaplike verantwoordelikheid.

Navrae: Louis Jacobs, Direkteur Korporatiewe Kommunikasie, Institusionele Kantoor
               Noordwes-Universiteit
               (018) 299 4918 / 082 901 6435

Datum : 31 Julie 2009