Printer-friendly version
Druk
Share this
 

Koning as nuwe Kanselier van die Noordwes-Universiteit aangestel

Sy Majesteit, Kgosi Leruo Tshekedi Molotlegi, Koning van die Koninklike Bafokeng-nasie, is op 19 Junie 2009 tydens ’n Raadsvergadering van die Noordwes-Universiteit (NWU) as tweede Kanselier van die NWU verkies. Hy het die aanstelling op 14 Julie aanvaar. Die Kanselier is die titulêre hoof van die Universiteit en ken alle grade namens die Universiteit toe.

Kgosi Molotlegi volg dr Popo Molefe op, wie se termyn as Kanselier van die NWU op 31 Mei hierdie jaar verstryk het. Dr Molefe is na die samesmelting in 2004 as die eerste Kanselier aangestel.

Die 41-jarige Kgosi Leruo Molotlegi het in Augustus 2003 die troon as die 36ste opperheerser van die 800 jaar oue Bafokeng-koninkryk bestyg. Sy Majesteit is die derde van ses kinders en is deur geboorte en die Bafokeng-erfreg die wettige troonopvolger.

Kgosi Molotlegi is ’n alumnus van Hilton Kollege in Natal en hy het ’n graad in Argitektuur en Stadsbeplanning van die Natal Universiteit. Hy is ook ’n vastevlerkvliegtuig- en rotortuigloods en is ’n erelid van die Suid-Afrikaanse Lugmag.

Die ongeveer 300 000 lede van die Bafokeng-nasie woon in die Phokeng-gebied naby Rustenburg, en dit is waarskynlik die rykste nasie in Afrika, met van die rykste platinumneerslae ter wêreld op die 2 000 vk kilometer grond wat deur hulle besit word.

In sy brief van aanvaarding het die koning sy waardering vir sy aanstelling as Kanselier uitgespreek en dit duidelik gemaak dat hy gretig is om ’n positiewe bydrae te maak en om met die bestuur van die NWU saam te werk.

Kgosi Molotlegi sal tydens ’n glansgeleentheid as tweede Kanselier van die NWU ingehuldig word.

Navrae: Louis Jacobs, Direkteur Korporatiewe Kommunikasie, Institusionele Kantoor
               Noordwes-Universiteit
              (018) 299 4918 / 082 901 6435

Datum : 31 Julie 2009