Printer-friendly version
Druk
Share this
 

Noordwes-Universiteit – Amptelike opening van die FW de Klerk-uitstalling

Institusionele Kantoor – Die Noordwes-Universiteit (NWU) het op 22 Januarie 2009 seker een van sy bekendste alumni vereer toe die FW de Klerk-uitstalling amptelik geopen is.

FW de Klerk het sterk bande met die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO), vandag as die NWU Potchefstroomkampus bekend, en die De Klerk-familie se verbintenis met die NWU strek oor bykans ’n eeu.

Ds WJ de Klerk, FW de Klerk se oupa, was vanaf 1919 tot 1927 die eerste registrateur van die Potchefstroomse Universiteitskollege en het ’n prominente rol in die totstandkoming daarvan gespeel.

Senator Jan de Klerk, FW se vader, het ’n BA-graad en ’n Onderwysdiploma aan die PU vir CHO verwerf, maar het in 1949 die onderwys verlaat om ’n politikus te word. Hy het vanaf 1954 in verskeie portefeuljes in die nasionale kabinet gedien, waaronder Onderwys, Kuns en Wetenskap. Hy het ook vir ’n tyd as President van die Senaat opgetree en was vanaf 1962 tot 1979 Kanselier van die PU vir CHO.

FW se ouer broer, Willem (Wimpie), het ook aan die PU vir CHO vir predikant studeer. Na ’n aantal jaar in die bediening het hy professor op hierdie kampus geword – ’n pos wat hy vanaf 1965 tot 1973 beklee het. Hy was daarna ’n koerantredakteur, ’n prominente filosoof en politieke beriggewer.

FW de Klerk was self in die 1950’s ’n student hier en het in 1958 ’n LLB-graad verwerf – dieselfde jaar wat hy as visevoorsitter op die Studenteraad gedien het. Hy het ook vanaf 1992 tot 1998 as Kanselier van die PU vir CHO gedien.

Die uitstalling bestaan uit memorabilia wat deur FW de Klerk aan die Universiteit geskenk is en beeld verskeie aspekte van sy beroemde loopbaan uit. Dit is dus ’n voorreg vir die NWU, en veral vir die Potchefstroomkampus, om hulde aan hierdie beroemdste van sy alumni te bring deur hierdie uitstalling aan te bied en daarby te verseker dat die werk wat FW de Klerk gedoen het om die nuwe Suid-Afrika te help vestig, nie vergeet sal word nie.

Die daarstelling van die NWU as ’n nuwegenerasie-universiteit tien jaar na die eerste demokratiese verkiesing in 1994 is in ooreenstemming met die visie wat FW de Klerk in sy geskiedkundige toespraak in 1990 met die volk gedeel het.

Die balans tussen eenheid en diversiteit wat die NWU vandag handhaaf, is iets waarvan hy ’n ywerige voorstander was en steeds is, en dit word deur die NWU se slagspreuk, Innovasie deur diversiteit, beklemtoon.

 F_W_de_Klerk_resize

Foto: Visekanselier van die NWU, Dr Theuns Eloff vergesel Mnr en Me de Klerk deur die uitstalling.

Navrae: Louis Jacobs, Direkteur Korporatiewe Kommunikasie, Institusionele Kantoor
Noordwes-Universiteit
(018) 299 4918 / 082 901 6435

Datum: 22 Januarie 2009