
NWU-Raad herstel die Rektor van die Mafikengkampus se naam in ere
Professor Dan Kgwadi, die Rektor van die Mafikengkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU), is van alle aantygings van growwe onreëlmatigheid vrygespreek.
Op sy vergadering van Vrydag 21 November 2008 het die NWU-Raad die bevindings van ’n onafhanklike ondersoek na die klagtes van die Verteenwoordigende Studenteraad van die Mafikengkampus teen die Kampusrektor, prof Kgwadi, aanvaar.
In ’n verslag aan die Raad het ’n onafhanklike ondersoek, wat deur die Departement van Interne Oudit van die Universiteit se Institusionele Kantoor gedoen is, bevind dat al die beskikbare feite daarop dui dat die klagtes teen prof Kgwadi ongegrond was.
Die aantygings teen die Rektor van die Mafikengkampus wat in ’n verslag van die KVSR voorgelê is, het nepotisme, viktimisering en growwe onreëlmatighede in verband met studentedissipline en die onreëlmatige verkryging van dienste ingesluit.
Die Mafikengkampusbestuur het die aantygings ontken wat in die studente se verslag bevat is, en feite voorgelê om hierdie aantygings te weerlê.
Volgens die verslag wat aan die Raad voorgelê is, en wat op die bevindings van die onafhanklike ondersoek gegrond is, verskaf die aantygings deur studente nie genoegsame grond vir die skorsing of selfs ’n ondersoek van die Kampusrektor nie.
In die verslag wat vir die Raad opgestel is, het advokaat Jan Henning afgesluit deur te sê dat dit inderdaad betreurenswaardig is dat aantygings van hierdie aard gepubliseer is sonder enige poging om eers vas te stel of daar redelike grond vir die aantygings is.
Navrae: Louis Jacobs, Direkteur Korporatiewe kommunikasie
Institusionele Kantoor
Noordwes-Universiteit
(018) 299 4918 / 082 901 6435
Datum: 1 Desember 2008


