Printer-friendly version
Druk
Share this
 

Kernkrag is die beste energiebron

POTCHEFSTROOM – Kernkrag is die enigste energiebron wat nie kweekhuisgasse vrystel nie en wat fossielbrandstof effektief kan vervang asook in die wêreldvraag voorsien.

Dit is die mening van dr Patrick Moore, ’n internasionaal-erkende omgewingskundige en voorsitter van Greenspirit Strategies, wat die Noordwes-Universiteit (NWU) op 4 Maart 2008 besoek het om sy siening van alternatiewe energiebronne en die implikasies van kernkrag vir Suid-Afrika en die wêreld te deel.

Dr Moore glo dat kernkrag nie net skoner energie produseer as dié uit fossielbrandstof nie, maar ook meer volhoubaar is as ander energiebronne soos fossielbrandstof, die wind en die son.

Volgens hom is hidroëlektriese en kernaanlegte die beste opsies vir basislas-energie om 'n land se ekonomie aan die gang te hou. Hy is baie positief oor hout en geotermiese bronne as hernubare energiebronne. Hy wys daarop dat hout koolstof stoor, en wanneer dit met nuwe bome vervang word as dit afgekap word, die hout die koolstof wat dit bevat, herwin. Wanneer hout, wat ongeveer 50% koolstof bevat, goed benut word, kan dit gesien word as komplekseerkoolstof.

“As ons die gevolge van die benutting van kernkragenergie opweeg teenoor die koolstofdioksied-vrystellings en die verdere uitputting van fossielbrandstof, is dit duidelik dat die voordele groter as die nadele is,” sê dr Moore.

Na ’n besoek aan die NWU se mikromodulêre korrelbed-toetsfasiliteit (PBMM) en die hitte-oordrag-toetsfasiliteit by die Fakulteit Ingenieurswese, het dr Moore gesê dat kernkragenergie wat deur ’n hoëtemperatuur-gasverkoelde kernreaktor soos die modulêre korrelbedreaktor (PBMR) geproduseer word, baie beter is as konvensionele kraginstallasies, aangesien die hitte van die PBMR gebruik kan word vir termochemiese watersplitsing (die produksie van waterstof vir industriële gebruik), as proseshitte, byvoorbeeld in die petrochemiese nywerheid,
en dit is ook ideaal vir ontsouting of watersuiwering.

Selfs met kernkragsiklusse is die hoeveelheid koolstofdioksied in die volle lewensiklus van kernenergieproduksie slegs 2% van die totale hoeveelheid wat tydens die oprigting van ’n fossielbrandstofaanleg deur vervaardiging en vervoer (indien koolstofbasis-energie gebruik word) geproduseer word .

Deur steenkool teen die huidige koers te verbrand, verbruik ons 300 miljoen jaar se fossielbrandstof in ’n tydperk van drie eeue. Lande soos China gebruik massiewe hoeveelhede steenkool. Dit word geraam dat China se steenkoolverbruik teen 2030 aan die verbruik van die res van die wêreld gelyk sal wees. Die verbranding van steenkool teen hierdie tempo is nie op die lange duur volhoubaar nie.

Energiebronne soos wind en sonenergie is inherent onderbroke, en die energie wat op sonnige of winderige dae geproduseer word, kan tans nie op koste-effektiewe wyse gestoor word om te gebruik wanneer daar geen son of wind is nie.

Een kernkragaanleg produseer soveel energie soos 500 tot 1 000 windturbines. Windturbines bevat heelwat meer materiaal per eenheid elektrisiteit wat geproduseer word as ander aanlegte; dit verhoog die sogenaamde koolstofspoor van windenergie drasties.

Alhoewel die aanvanklike kapitaalbelegging vir kernkrag hoog is, vergelyk die koste van kernkragaanlegte goed met steenkoolkragaanlegte en is definitief meer koste-effektief as wind- of sonkragenergiestelsels.

Sonkragenergiestelsels is ook baie duur en sal slegs koste-effektief wees wanneer hulle 10% kos van wat hulle tans kos. Dr Moore het daarop gewys dat dit ’n sonkragstelsel ongeveer sewe tot nege jaar sal neem om die hoeveelheid energie te produseer wat dit aanvanklik neem om die stelsel te vervaardig.

Met betrekking tot aardverwarming en lugbesoedeling het dr Moore daarop gewys dat vervoer die grootste uitdaging vir die vermindering van koolstofdioksied is. “Ons behoort op die ontwikkeling van skoon energiestelsels vir vervoerdoeleindes te konsentreer,” het hy gesê.

Dr Moore se besoek aan die NWU het ’n akademiese bespreking en ’n interkampus-colloquium ingesluit.

 Moore_400h

Tydens sy besoek aan die NWU het dr Patrick Moore (regs), bekende omgewingskundige en voorsitter van Greenspirit Strategies, die NWU se mikromodulêre korrelbed-toetsfasiliteit (PBMM), besoek. Saam met hom is prof Gideon Greyvenstein, Direkteur: Nagraadse Skool vir Kernwetenskap en -ingenieurswese op die Pothcefstroomkampus van die NWU.

 Moore_Frikkie_400

Dr Patrick Moore (regs) kyk na die hitte-oordrag-toetsfasiliteit by die Nagraadse Skool vir Kernwetenskap en -ingenieurswese op die Potchefstroomkampus. Saam met hom is prof Frikkie van Niekerk, Uitvoerende Direkteur: Navorsing en Innovasie.

Navrae:
Prof Frikkie van Niekerk
Uitvoerende Direkteur: Navorsing en Innovasie
Tel (018) 299 4926

Prof Gideon Greyvenstein
Direkteur: Nagraadse Skool vir Kernwetenskap en -ingenieurswese, Potchefstroomkampus.
Tel (018) 299 4060 / (082) 558 3917

Me Phumzile Mmope, NWU Institusionele Kantoor
Uitvoerende Direkteur: Korporatiewe Sake en Verhoudinge
(018) 299 4931 / 073 2189691