community engagement

Fotogalery | Kontak ons

Gemeenskapsbetrokke onderrig-leer | Gemeenskapsverbintenis

“Gemeenskapsbetrokke onderrig-leer” omskryf

 

Een van Noordwes-Universiteit se vernaamste aktiwiteite is om studente te onderrig en te leer, en wanneer hierdie aktiwiteite aan interaksies met die gemeenskap gekoppel word, verwys ons daarna as “gemeenskapsbetrokke onderrig-leer”. Gemeenskapsverbonde aktiwiteite wat met onderrig-leer verband hou, het gewoonlik nie ʼn winsoogmerk nie en sluit professionele gemeenskapsdienste en uitreike (vrywillige diens) sowel as ontwikkelingsgerigte aktiwiteite met ʼn werwingsfokus in. Van groter belang, egter, is dat gemeenskapsbetrokke onderrig-leer ten nouste verband hou met ervaringsleer wat, soos uit die benaming afgelei kan word, neerkom op ʼn proses waar daar geleer word deur te ervaar of, soos Kolb (1984)[1] dit gestel het, "learning through reflection on doing". Ervaringsleer kan ook gesubsidieerde ontwikkelingsgerigte betrokkenheid insluit wat werkgeïntegreerde leer en diensleer behels. Ongeag die formaat word hierdie vorme van leer in alle gevalle deur opvoedkundige teorieë soos sosiale konstruktivisme en aktiwiteitsteorie onderskryf.

 

Gesubsidieerde ontwikkelingsgerigte betrokkenheid

Gesubsidieerde ontwikkelingsgerigte gemeenskapsbetrokkenheid binne die konteks van onderrig-leer het te make met die klem wat gelê word op die oordrag van kennis aan en die versterking van studente se leerervaring. (In hierdie geval dui die woord “gesubsidieerde” daarop dat sommige van die koste via klasgelde verhaal kan word.)

Die oogmerk met hierdie vorm van betrokkenheid is om waarde toe te voeg tot die ontwikkeling van studente se kritiese denkvermoëns en om hulle tegelyk te help om daardie “sagte” vaardighede aan te leer wat dit vir hulle moontlik sal maak om, gerugsteun deur grondige navorsing en leer, as volwaardige Suid-Afrikaanse burgers uit te blink. Alhoewel die term die effe beperkte nosie 'diensleer' insluit, word daar tegelyk ag geslaan op ander vorms van diensgeoriënteerde akademiese en nie-akademiese gemeenskapsinteraksie. ʼn Voorbeeld van hierdie tipe betrokkenheid is die voorgeskrewe praktiese ervaring wat deur sommige professionele rade vereis word soos werkgeïntegreerde leer (WGL) in die gemeenskap of by instansies in die privaatsektor. Dit maak dit ook vir die universiteit moontlik om uitdrukking te verleen aan ander vorms van maatskaplike verantwoordelikheid via sy kurrikulêre aktiwiteite in die vorm van diens aan die gemeenskap wat verder strek as standaard- praktiese kursusse en wat, in sommige gevalle, behels dat WGL in gemeenskappe plaasvind.

 

Werkgeïntegreerde leer

Werkgeïntegreerde leer (WGL) word as ʼn oorkoepelende term gebruik om kurrikulêre, pedagogiese en assesseringspraktyke te beskryf wat oor ʼn wye reeks akademiese dissiplines strek en waardeur formele leer en werkplekervaring geïntegreer word.

As ʼn opvoedkundige benadering wat ontwerp is om ooreenstemming tussen akademiese en werkplekpraktyke tot wedersydse voordeel van beide die student en die werkplek te bewerkstellig, is dit logies dat WGL ooglopend gepas moet wees vir die betrokke kwalifikasie.

Aangesien WGL primêr ten doel het om studente se leer te versterk, is verskeie vernuwende kurrikulêre, pedagogiese en assesseringsvorms ontwikkel in reaksie op kommer rakende gegradueerdes se werksgereedheid, indiensneembaarheid en burgerlike verantwoordelikheid. Benewens formele of informele werkplasings, kan die integrasie van teorie en praktyk in studente se leer deesdae een van verskeie WGL-benaderings volg. Volgens die “Good Practice Guide” vir werkgeïntegreerde leer wat in 2011 deur die Higher Education Monitor[2] gepubliseer is, sluit voorbeelde van sulke benaderings die volgende in: aksieleer, vakleerlingskappe, koöperatiewe onderwys, ervaringsleer, ondersoekleer, interprofessionele leer, praktiese plasings, probleemgebaseerde leer, projekgebaseerde leer, scenarioleer, diensleer, spangebaseerde leer, virtuele of gesimuleerde WGL, werkgebaseerde leer, werkervaring en werksplekleer.

Die algemeenste vorms van WGL wat gebruik word, is probleemgebaseerde leer, projekgebaseerde leer en werksplekleer. Desnieteenstaande deel alle vorms van WGL baie elemente met ander vorms van ervaringsleer, maar veral van belang is dat almal gegrond is op leer deur te doen en na te dink oor leer, wat as skakel tussen teorie en praktyk dien.

Van belang hier is dat diensleer, in watter vorm ook al, onderskei word van ervaringsleer in die sin dat eersgenoemde wederkerigheid tussen studente se leer en diens aan die gemeenskap nastreef. Met ander woorde, beide die student en die gemeenskap baat by en leer uit die ervaring. Daar word dikwels na hierdie vorm van leer verwys as gemeenskapsbetrokke leer, kurrikulumgebaseerde gemeenskapsbetrokkenheid of kurrikulêre gemeenskapsbetrokkenheid.

 

Nastrewing van kurrikula wat gemeenskapsbetrokke onderrig-leer ondersteun

Noordwes-Universiteit bied regdeur die jaar verskeie opleidingsgeleenthede aan ter ondersteuning van die ontwerp van kurrikulêre inhoud wat aan die kriteria vir ware gemeenskapsverbintenis voldoen met spesifieke verwysing na diensleer. Vir meer besonderhede oor die jaarlikse opleidingskalender, kontak die direktoraat gemeenskapsverbintenis

 

‘N BEROEP OP ALMAL WAT BY AKADEMIESKAP BETROKKE IS

  • Ter wille van die fasilitering van akademiese begrip, maak asseblief seker dat jy jou studie by die direktoraat gemeenskapsverbintenis registreer.

Al te dikwels raak studente en personeel binne ʼn spesifieke dissipline betrokke by die gemeenskap maar laat na om seker te maak dat daardie interaksies tot akademiese begrip bydra aangesien bevindinge nooit gerapporteer word nie. Onthou, akademieskap van betrokkenheid impliseer dat die nuwe kennis wat tydens die proses van betrokkenheid onthul word, geanaliseer moet word en dat die bevindinge gerapporteer moet word ten einde te verseker dat alle betrokkenes op ʼn wederkerige wyse daarby baat.

Vir hulp en formele opleiding in hierdie verband, kontak die direktoraat gemeenskapsverbintenis of raadpleeg die opleidingskalender.

 

[1] Kolb D. (1984). Experiential Learning as the Science of Learning and Development. Englewood Cliffs, NJ: Prentice Hall.