Elmarie Myburgh

Elmarie Myburgh

Profileer vir ’n veiliger Suid-Afrika

Elmarie Myburgh is die Suid-Afrikaanse Polisiediens se mees ervare sielkundige profileerder en het 21 jaar ervaring in die veld. Sy is ook die diens se enigste kundige oor geweldsrisikoberaming.

Elmarie, wat die rang van luitenant-kolonel beklee, staan aan die hoof van die SAPD se ondersoekende sielkunde-afdeling vir forensiese dienste.

Sy het al op hoëprofiel- kriminele ondersoekspanne gedien en was betrokke by die ondersoek van meer as 50 reeksmoordenaarsake, 70 reeksverkragtingsake en talle ander moordondersoeke, waaronder kindermoorde.

Die harde werk en toewyding van hierdie alumna van die Noordwes-Universiteit het reeds talle gewelddadige misdadigers agter tralies laat beland en gehelp om ’n menigte hoëprofielsake op te los. Elmarie het al dikwels op internasionale vlak, onder andere met die Swaziland-reeksmoorde, hulp verleen.

Haar kundigheid sluit in om in sake van reeksverkragting, reeksmoorde en mutimoorde profilering te doen. Sy is ’n spesialis in sielkundige ontwikkeling en onderhoudvoering, en in die verkryging van inligting by getuies, slagoffers en verdagtes.

Elmarie was ’n hoofspreker by verskeie internasionale konferensies en het werkswinkels by internasionale polisieforums aangebied, ook vir die federale ondersoekburo (FBI) van die Verenigde State van Amerika.

Sy het ’n BA-graad (1991) en honneursgraad in Kriminologie (1992) en Sielkunde (1993) aan die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys verwerf, asook ’n diploma in Strafregpleging en Forensiese Oudit (2004) van die voormalige Randse Afrikaanse Universiteit.