Deon Meyer | Alumni

Deon Meyer – ink in sy are

 

Deon Meyer het hom as een van Suid-Afrika se beste en mees gerespekteerde misdaadskrywers onderskei. Hy het in Klerksdorp grootgeword – ’n klipgooi van Potchefstroom af – en sy BA-studies aan die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys voltooi.

Veertien jaar later het hy sy eerste Afrikaanse roman gepubliseer, en dit was die begin van ’n produktiewe loopbaan as misdaadskrywer. Hy het in 2009 voltyds begin skryf en ’n honneursgraad in Geskiedenis aan die Universiteit van die Vrystaat, en ’n MA in Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.

Deon het reeds 11 romans en twee bundels kortverhale gepubliseer. Sy romans is in 27 tale vertaal. Deon het in 2010 die skriftelike en mondelinge letterkundekategorie van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) se jaarlikse veeltaligheidstoekennings gewen.

Hy het verskeie filmdraaiboeke geskryf wat op sy kortverhale gebaseer is, asook twee reekse vir die TV. Hy toon betekenisvolle leierskap in sy veld en stel as skrywer ’n voorbeeld deur sy ervarings met die jeug en jong, ontluikende skrywers te deel.

Sy internasionale roem en erkenning is werklik buitengewoon vir ’n Suid-Afrikaanse skrywer. Die meeste van sy boeke is vir films oorweeg en hy word internasionaal as misdaadskrywer erken.