Voornemende Studente, NWU

VOORNEMENDE STUDENTE

Word ’n NWU-student

Geleenthede wink wanneer jy as ’n student van die Noordwes-Universiteit registreer. Uitmuntende tersiêre onderrig loop hand aan hand met ’n lewendige studentelewe en talle geleenthede om jou talente in sport, kuns en kultuur, gemeenskapsdiens en studenteleierskap te ontwikkel.

’n Bykomende voordeel is die hoë vlak van ondersteuning wat ons jou bied – nie net in ons lesinglokale nie, maar ook in die vorm van finansiële bystand vir jou studies indien dit nodig is, berading sodat jy die regte studiekeuses en loopbaankeuse kan maak, en toegang tot ’n reeks vertroulike gesondheids- en welstanddienste.

Akkommodasie in ons studentekoshuise op al drie kampusse is gerieflik, digby alles, goed georganiseerd en veilig. Standaardfasiliteite sluit 24-uursekuriteit, studenterestaurante, televisie-, sit-, ontspannings- en rekenaarkamers in, asook volledig toegeruste wasserye en strykkamers. Alle koshuise is boonop binne stapafstand van die NWU se akademiese, administratiewe en sportfasiliteite.

Nóg 'n voordeel van studie aan die NWU is dat ons gelde bekostigbaar is en uitstekende waarde vir geld bied. Beurse is egter beskikbaar aan akademies verdienstelike studente wat geldelike bystand nodig het.