Printer-friendly version
Druk
-A A +A
Font grootte
RSS Invoer
Share this
   Stuur / Boekmerk

ANDER INLIGTING

 

Vandag @ NWU

Nuus


05/17/2012 - 10:34

Onaktiewe kinders is siek kinders

Kinders wat minder as tien duisend treë per dag stap, loop gesondheidsrisiko’s om met kroniese siektes soos obesiteit, hoë bloeddruk, kolesterol of tipe twee diabetes gediagnoseer te word.

Volgens prof Andries Monyeki van die Skool vir Biokinetika, Rekreasie en Sportwetenskap aan die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU), bevind meeste Suid-Afrikaanse kinders hulself tans in ‘n kritiese stadium van onaktiwiteit. Hy meen Suid-Afrika het, naas Amerika en Brittanje, die derde hoogste obesiteitsyfer ter wêreld.

 
 
 
05/16/2012 - 10:56

SJGD tweede in internasionale kompetisie

Die Studente-Jool-gemeenskapsdiens (SJGD) van die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit het die tweede prys in ‘n internasionale kompetisie vir studentegemeenskap-diensorganisasies gewen.

Geen ander universiteit in Suid-Afrika het gedurende die 2012-kompetisie 'n toekenning of eervolle vermelding ontvang nie.
Dié eer het die SJGD te beurt geval met ‘n prys van $5 000 wat hulle met die MacJannet-prys vir wêreldburgerskap ontvang het. Die eerste prys is aan ‘n studente-organisasie in Mexiko toegeken en die derde prys vir ‘n organisasie in China.

Die MacJannet-prys word jaarliks toegeken aan studente-gemeenskapsprojekte van universiteite wat deel is van die Talloires Internasionale netwerk. Die NWU is lid van dié netwerk.

 
 
 
05/07/2012 - 09:24

Pukfm-stasiebestuurder nou lid van die Bright Stars-klub

Potchefstroomkampus - Me Amoré Truter, stasiebestuurder van Pukfm, die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) se studente-radiostasie, is onlangs tydens die MTN Radiotoekennings by die Sandton Konvensiesentrum deur Jeremy Mansfield as lid van die Bright Stars-klub benoem.

Dié klub vereer jong individue in die radiobedryf wat hul merk maak en vir wie daar ʼn belowende toekoms voorspel word, en ʼn meer verdienstelike kandidaat kon hulle nie gekies het nie.

Onder Amoré se bekwame hand het Pukfm van nét ʼn kampusradiostasie gegroei tot ʼn toenemend belangrike rolspeler in die gemeenskap.

 
 
 
05/03/2012 - 09:55

Noordwes-Universiteit (NWU) vereer sy woordvoerders

Institusionele Kantoor – By ʼn onlangse funksie is erkenning verleen aan akademici, navorsers en ander personeel vir hul bydrae om die NWU se mediaprofiel te verbeter. Die Universiteit is ʼn wonderlike bron van kundigheid en is die tuiste van ʼn groot aantal kundiges met uitgebreide kennis in ʼn wye verskeidenheid vakgebiede. Hierdie kundiges word aangemoedig om hul insigte deur middel van die media met die publiek te deel.

 
 
 
04/25/2012 - 15:34

Unieke wetenskap-toestelle vul groot leemte

Potchefstroomkampus - Unieke laboratorium-toestelle is deur chemici van die Fakulteit Natuurwetenskappe op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) ontwerp om leerders op laer- en hoërskool met die praktiese sy van wetenskaplike vakke te help.

Dié toestelle word ook met groot vrug in Noorweë en Ethiopië gebruik.

Prof Corrie du Toit, en sy kollega, me Marié du Toit, het in 2001 ʼn kompakte en bruikbare chemie- en natuurwetenskappe-toestel (MyLab) ontwikkel vir wetenskaponderrig in graad 4 tot 12.

Dié stelle kan volgens prof Corrie, afgetrede dosent in wetenskap, ʼn reuse bydrae lewer tot suksesvolle wetenskaponderrig by selfs skole wat oor geen laboratoriums beskik nie.

Onlangs is berig dat die getal skole met wetenskap-laboratoriums tussen 2006 en 1011 met sowat 35% afgeneem het.

 
 
 
04/23/2012 - 10:23

NWU verbind tot uitnemendheid

Die Suid-Afrikaanse Raad vir Personeelpraktyk (SABPP) is trots daarop om geassosieer te word met die Noordwes-Universiteit (NWU) en het bevind dat die NWU verbind is tot uitnemendheid in mensehulpbronne (MH), professionaliteit en gehalte. Die NWU is ook die enigste universiteit wat op die SABPP se raad verteenwoordig word.

Die SABPP is ʼn professionele liggaam vir mensehulpbronpraktisyns en is die gehalteversekeringsliggaam wat ʼn mandaat van die Suid-Afrikaanse Kwalifikasie-owerheid ontvang het om gehalteversekering van MH- en MHO-leervoorsiening te onderneem. Hulle akkrediteer ook universiteite se mensehulpbron- en bedryfsielkundeprogramme.

 
 
 
04/19/2012 - 10:01

NWU-rekenmeesters laat die syfers mooi klop

Institusionele Kantoor - Met inagneming van die getal studente en die slaagsyfer van 88%, het die pas afgestudeerde geoktrooieerde rekenmeesterstudente van die Noordwes-Universiteit (NWU) in 2012 beter as ooit tevore gevaar in die Deel 1-nasionale kwalifiserende eksamen van die Suid-Afrikaanse Instituut van Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR).

Dié slaagsyfer was heelwat hoër as die land se gemiddeld van 78%. In ʼn vraag oor Finansiële Bestuur en Bestuursrekeningkunde het die NWU se studente die beste in die land gevaar. Daarmee het hulle voortgebou op die prestasies van vorige NWU-studente wat in die verlede reeds verskeie kere in verskillende vakke die beste in Suid-Afrika was.

 
 
 
04/17/2012 - 09:32

Bloeddruknavorsing skiet die hoogtes in

Potchefstroomkampus - Dubbeld soveel swartmense as witmense sterf aan bloeddrukverwante siektes soos beroerte. Nog ‘n skokkende feit is dat sowat 70% van swart, manlike onderwysers, aan hoë bloeddruk ly.

Volgens prof Alta Schutte, direkteur van die Hipertensie in Afrika Navorsingspan (HART) aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, is bloeddruksiektes by dié rassegroep, ‘n tendens wat nou kommerwekkend toeneem.  “Dit is ‘n tendens wat nou aandag moet geniet.  Daarom het die universiteit pas ‘n hipertensiekliniek op die been gebring, wat binnekort amptelik geopen sal word.  Hier sal ons op verskeie aspekte van hipertensie spesialiseer.  Die span sal hoogs gespesialiseerde navorsingprojekte aanpak.  Vroeë opsporing en voorkoming van hipertensie asook die bewusmaking daarvan sal aandag geniet.”

 
 
 
04/04/2012 - 12:02

Akademiese mobiliteit versterk hoër onderwys in Afrika

Institusionele Kantoor – Die Noordwes-Universiteit (NWU) is een van agt vennote wat aan die Afrika-, Karibiese- en Stille Oseaan-staatsgroepprojek (ACP-projek) vir akademiese mobiliteit, wat deur die Europese Unie befonds word, gaan deelneem.
Hierdie uitruilprogram moedig die uitruil van kennis, vaardighede en ervarings tussen vennoot-universiteite deur middel van omvattende beurse aan.

Die agte vennote is Ardhi (Tanzanië), Buea (Kameroen), Hawassa (Ethiopië), Makerere (Uganda), KNUST (Ghana), NWU (Suid-Afrika), Politegnikum van Namibië (Namibië) en die Universiteit van die Vrystaat (Suid-Afrika).

 
 
 
04/03/2012 - 15:57

Uitkoms: Onafhanklike ondersoek na die verdrinking van Thabang Makhoang op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit

Institusionele Kantoor – Die verslag van die onafhanklike ondersoek deur advokate Lourens de Koning (SC) en Vusi Pikoli na die tragiese dood (op 21 Januarie 2012) van ʼn eerstejaarstudent aan die Potchefstroomkampus is gefinaliseer en voorgehou aan die Visekanselier, dr Theuns Eloff, op 15 Maart 2012. Op ʼn vergadering van die Raad se Uitvoerende Komitee op 20 Maart is besluit dat die verslag op ʼn spesiale Raadsvergadering op 30 Maart ter tafel gelê moet word.

Ná beraadslaging is die verslag sowel as die aanbevelings deur die Raad aanvaar. Die Raad het hul waardering uitgespreek vir die omvattendheid van die ondersoek en die daaruit voortspruitende verslag. Die opdrag van die komitee wat die onafhanklike ondersoek gedoen het, was as volg:

 
 
 
03/29/2012 - 10:30

Toppresteerders in bestuursprogramme deur PBS aangewys

Potchefstroomkampus - Die Potchefstroom Besigheidskool (PBS) se Uitvoerende Leerprogram se jaarlikse sertifikaat-toekenningsgeleentheid het vanjaar weer plaasgevind op Vrydag, 16 Maart by die Quest Konferensiesentrum in Vanderbijlpark.

Verskeie sertifikate vir die beste prestasies op die verskillende vakgebiede is tydens hierdie formele seremonie aan graduandi oorhandig.

Die beste algehele presteerder in die Gevorderde Bestuursprogram was mnr Marius Forbes, bemarkingsbestuurder van Noordfed (ʼn affiliaal van die NWK-groep) in Lichtenburg. Marius het altesaam vyf onderskeidings behaal.   

Die Gevorderde Bestuursprogram spog ook met 27 kandidate wat dié program onder leiding van me Retha Scholtz suksesvol voltooi het en altesaam 16 onderskeidings is vir 2011 behaal.

 
 
 
03/28/2012 - 08:48

Nasionale Persklub – Noordwes-Universiteit se Joernalis van die Jaar-toekenning

Barry Bateman van Eyewitness News is die Nasionale Persklub – Noordwes-Universiteit se Joernalis van die Jaar vir 2011.

Bateman is beloon vir sy deursettingsvermoë, sy aanvoeling vir feitelik korrekte verslagdoening en vir sy werk onder geweldige sperdatumdruk. Sy taaie volharding met die storie oor die Tshwane-metropolisie se gebruik van voertuie met vals nommerplate is ʼn uitstekende voorbeeld van uitnemende joernalistiek.

Die toekennings is gemaak by die Nasionale Persklub – Aon Suid-Afrika Nuusmaker van die Jaar-funksie in Pretoria.
 
Thabiso Thakali van die Saturday Star is die gedrukte nuus-kategorie se joernalis van die jaar vir sy portefeulje van uitstaande joernalistiek.

 
 
 
03/23/2012 - 15:38

Ry-'n-fiets-projek skop af op kampus

Ooreenkoms met Vlaamse Stigting vir Verkeerskunde

Die Fakulteit Opvoedingswetenskappe het onlangs ‘n Ry-‘n-fiets-projek op die Potchefstroomkampus bekendgestel as deel van ‘n “groener” kampus.

Die fasiliteit is deel van ‘n projek, Mobiliteit en die Omgewing, wat deur die Vlaamse Stigting vir Verkeerskunde (VSV) geborg word. Die projek het twee bene, naamlik die gratis beskikbaarstelling van fietse om op kampus te beweeg en ‘n navorsingsprojek oor die fisiese impak wat fietsry om die menslike liggaam het.

‘n Aantal fietse is aangekoop en word gratis aan studente en personeel beskikbaar gestel om vinnig van een punt na ‘n ander op die kampus te beweeg. Die fietse is voor die Ampie-kiosk naby die ou POK-hoofgebou (C6) geparkeer.

 
 
 
03/23/2012 - 15:33

Opleiding broodnodig vir bekamping van voedingverwante sterftes

Potchefstroom - Die term “honger” word beskryf as die ongemaklike of pynlike sensasie wat as gevolg van die behoefte aan voedsel veroorsaak word. In afgeronde syfers, is daar tans sowat 7 miljard mense in die wêreld, waarvan een uit elke sewe honger is – World Hunger Education Service.

Prof Johann Jerling, direkteur van die sentrum vir uitnemendheid in voeding aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, meen meer en meer mense is besig om te sterf omdat Afrika nie genoeg persone oplei om as ambassadeurs op te tree oor voedingkwessies nie. “Wanvoeding en ondervoeding eis reeds sy tol en die tendens oor die afgelope paar jaar, is dat dit vererger.”

 
 
 
03/19/2012 - 15:30

Ondernemingsontwikkeling-sentrum – 'n hupstoot vir entrepreneurskap

Vanderbijlpark – Die Fakulteit Ekonomiese Wetenskappe en Inligtingstegnologie op die Vaaldriehoekkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU-Vaal) loods 'n Ondernemingsontwikkeling-sentrum (OOS) in die Vaaldriehoek. Die OOS se tuiste sal op die Vaaldriehoekkampus van die NWU wees en is daarop gemik om beginner- of gevestigde entrepreneurs te bemagtig.

Entrepeneurskap word as die hoeksteen van alle toekomstige ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling in Suid-Afrika beskou. Deur innovasie skep entrepreneurs nuwe en kompeterende markte en besighede wat op hulle beurt tot werkskepping lei en 'n vermenigvuldigingseffek op die ekonomie het.  

 
 
 
03/19/2012 - 10:07

Prof Alta Schutte bekroon met gesogte medalje

Potchefstroom - Nog 'n eer het prof Alta Schutte, direkteur van die Hipertensie in Afrika Navorsingspan (HART) op die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, te beurt geval.

Die gesogte Meiring Naudé Medalje is deur ‘n nasionale wetenskapsvereniging, die Council of the Royal Society of South Africa aan Schutte toegeken.
 
Dié medalje word jaarliks toegeken aan uitmuntende jong wetenskaplikes wat jonger as die ouderdom van vyf-en-dertig is. Nog 'n vereiste om in aanmerking geneem te word, is dat die betrokke wetenskaplike reeds sy/haar merk in ‘n betrokke veld moes gemaak het en moet oor die potensiaal om ‘n wetenskaplike leier te word, beskik.

 
 
 
03/16/2012 - 10:11

NWU se Mafikengkampus floreer

Agt jaar na die Universiteit van Noordwes met die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys saamgesmelt het en die Sebokengkampus van die voormalige Vista Universiteit geïnkorporeer is, toon die Mafikengkampus van die Noordwes-Universiteit besondere sukses en groei in 'n landskap met geweldige uitdagings.

Vanjaar het Mafikengkampus se studentegetalle tot 'n rekord 9 110 gegroei, 2 333 hiervan is eerstejaars en 'n verdere 1 162 studeer nie op die kampus nie. Van die eerstejaarstudente is 718 vir kursusse in die Fakulteit Geestes- en Maatskaplike Wetenskappe ingeskryf terwyl die res by die ander vier fakulteite studeer.

 
 
 
03/15/2012 - 15:25

NWU tuiste van SA Instituut vir Ernstige Speletjies

Vanderbijlpark  – Die Vaaldriehoekkampus van die Noordwes-Universiteit is die tuiste van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Ernstige Speletjies (SGI-SA) – wat geaffilieer is by die International Serious Games Institute wat in Coventry Universiteit in die Verenigde Koninkryk gesetel is. Dit is ʼn innoverende en tegnologiegebaseerde samewerkingspoging tussen die twee hoëronderwysinstansies.

Speletjies bied ʼn veilige milieu vir eksperimentering, mededinging, samewerking en ontwikkeling. In die lig van die immer veranderende omgewing – ʼn gevolg van die digitale revolusie – bied ernstige speletjies ʼn akademiese sowel as ʼn kommersiële alternatief vir onderwys en opleiding, besigheidsmodellering, virtuele konferensies en toegepaste navorsing.

 
 
 
03/14/2012 - 10:55

NWU vier voortreflike onderrigvaardighede

Me Stefanie-Marié (Stef) Esterhuizen van die Skool vir Opvoedkundige Wetenskappe in die Fakulteit Geesteswetenskappe op die Vaaldriehoekkampus het in 2011 die beste gevaar in die uitdagende Institusionele Toekennings vir Onderriguitnemendheid-proses (ITOU-proses).

Vir hierdie prestasie het sy die Visekanselier-prestigetoekenning ontvang tydens ʼn gala-geleentheid wat op 2 Maart 2012 in Potchefstroom gehou is. Dr Theuns Eloff, die visekanselier van die NWU, het ʼn wisseltrofee aan haar oorhandig.

Stef is die algehele wenner vir 2011, en uiteraard ook een van die drie kampuswenners. Die ander twee is dr Ralph Manyane van die Fakulteit Geestes- en Sosiale Wetenskappe op die Mafikengkampus en mnr Pieter van der Zwan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe op die Potchefstroomkampus.

 
 
 
03/14/2012 - 10:45

NWU bied pastorale kortkursus oor pedofilie

Seksueel afwykende gedrag en spesifiek pedofilie is wêreldwyd ʼn probleem en word selfs deur sommige navorsers as ʼn epidemie beskou.

Volgens dr Stella Potgieter, navorser en kortkursusaanbieder by die Fakulteit Teologie van die Noordwes-Universiteit, is pedofilie ʼn onderwerp waaroor daar nie in die algemeen of in die openbaar oor gepraat word nie. Sy sê so ʼn persoon word sosiaal geïsoleer, wat molestering soveel makliker maak.