
Unieke wetenskap-toestelle vul groot leemte
Potchefstroomkampus - Unieke laboratorium-toestelle is deur chemici van die Fakulteit Natuurwetenskappe op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) ontwerp om leerders op laer- en hoërskool met die praktiese sy van wetenskaplike vakke te help.
Dié toestelle word ook met groot vrug in Noorweë en Ethiopië gebruik.
Prof Corrie du Toit, en sy kollega, me Marié du Toit, het in 2001 ʼn kompakte en bruikbare chemie- en natuurwetenskappe-toestel (MyLab) ontwikkel vir wetenskaponderrig in graad 4 tot 12.
Dié stelle kan volgens prof Corrie, afgetrede dosent in wetenskap, ʼn reuse bydrae lewer tot suksesvolle wetenskaponderrig by selfs skole wat oor geen laboratoriums beskik nie.
Onlangs is berig dat die getal skole met wetenskap-laboratoriums tussen 2006 en 1011 met sowat 35% afgeneem het.
Die swak skooluitslae in 1996 in veral chemie was die dryfkrag vir dié projek. Prof Corrie sê hulle het reeds groot sukses in veral Noordwes-skole behaal. Die ontwikkeling van die produk is aanvanklik as ʼn navorsingprojek begin en is eers later gekommersialiseer.
Volgens die navorsers is praktiese werk ʼn baie belangrike komponent van wetenskap-onderrig en is dit ontwikkel om onderwysers met die praktiese werk te help. Hulle het tot die slotsom gekom dat onderwysers chemikalieë, apparaat, voldoende werkkaarte, memorandums en voorbereidingsmateriaal benodig en nie noodwendig laboratoriums, elektrisiteit en lopende water nie.
Prof Corrie sê die toestelle is al in die VSA en Noorweë bekendgestel, waar opleiding ook aan onderwysers gegee is. Die produk word tans ook na Ethiopië versprei waar dit groot sukses met skoolprestasies behaal het.
Ses wetenskapsentrums van Transnet regoor Suid-Afrika gebruik ook die MyLab-toestelle om wetenskapbelangstelling onder leerders aan te wakker.
Prof Corrie sê die projek het in 2006 in Korea internasionaal erkenning gekry. In 2011 het die hulle die NWU se prys vir institusionele navorsing as die top-tegnologie-innoveerders gekry.
Tientalle slypskole is die afgelope paar jaar aan onderwysers by skole in Noordwes, Limpopo, Vrystaat, Durban en Vredenburg aangebied. ʼn Opname daarna onder onderwysers het getoon dat hulle baie by die toestelle en slypskole baat vind. Nie net word hulle vakkennis so verbeter nie, maar sommige het ook vir die eerste keer eksperimente saam met leerlinge uitgevoer.
Prof Corrie sê onderwysers het ook ʼn baie beter begrip gekry van hoe die kurrikulum toegepas moet word. Hy sê die toestelle en werkkaarte is al drie keer aangepas om by die Departement van Onderwys se kurrikulums te hou.
“Te veel onderwysers is nie voldoende opgelei om wetenskap aan te bied nie en groter sukses is behaal waar die toestelle met ʼn werksessie gepaardgegaan is.”
Marié sê as dié projek na al die skole in die land uitgerol kan word, kan sy nie sien waarom daar nie ʼn groot verbetering in leerlinge se prestasie en uitslae kan kom nie.
Die toestelle word teen ʼn billike bedrag te koop aangebied en die inkomste wat daarmee gegenereer word, word weer in navorsing teruggeploeg.
Belangstellendes kan die webtuiste (www.mylab.co.za) besoek vir meer inligting. Prof Corrie du Toit kan geskakel word by 076 377 8989 of Marié du Toit by 082 392 0883.
Prof Corrie du Toit en sy kollega, me Marié du Toit, van die Fakulteit Natuurwetenskappe by die Potchefstroomkampus van die NWU met die kompakte wetenskaptoestel wat hulle ontwikkel het.
Van die heel eerste toestelle wat selfs in ʼn roomyshouer gepas het.


