Printer-friendly version
Druk
Share this
 

Twintig hande, een hart

Potchefstroom - Op Saterdag 25 Februarie gaan twintig hande uit een hart die klawers laat klink in Potchefstroom! 

Pukkunste, Artéma en Alabama-produksies gooi hulle kragte saam met 10 van die land se voorste en bekendste pianiste om die konsert  “20 hande, 1 hart” op die planke te bring. 

Die konsert is ten bate van die baie bekende oud-Puk en oud-Alabama-lid, komponis en pianis, Christa Steyn, wat die afgelope 10 maande ‘n verbete stryd teen kanker veg.  


Christa Steyn, oud-Puk en oud-Alabama-lid

“20 Hande, 1 hart” is ‘n unieke konsep waarin top pianiste uit verskillende klaviergenres in een program gaan optree.  Hierdie kunstenaars sluit in die bekende tv-aanbieder, sanger, liedjieskrywer en komponis Coenie de Villiers, Jeanine Neethling, wat die musikale regie van die jaarlikse Huisgenoot Skouspel hanteer en Clinton Zerf wat o.a. verantwoordelik was vir die musiekregie van die uiters suksesvolle musiekblyspel “Stuur Groete aan Mannetjies Roux”.

Die immergroen Johan van Rensburg, oud-Alabama regisseur en jarelange musiekregisseur van die uiters gewilde tv-reeks Noot vir Noot en Jaconell Mouton wat ook in die Musiekfabriek-orkes speel, sal in aksie te siene wees.

Vanuit die meer klassieke genre sal die baie bekende Wessel van Wyk en ons eie Truida Olivier, dosent aan die NWU-Puk Konservatorium, aan die konsert deelneem.

Die jazz-genre word verteenwoordig deur Ramon Alexander. Roelof Colyn, wat bekendheid verwerf het deur die produksie “A Handful of Keys” (wat al voor meer as 400 000 mense wêreldwyd opgevoer is), rond die kunstenaarspan af saam met die komponis Melissa van der Spuy.

Die konsert wil op hierdie wyse ‘n bydra lewer tot die verligting van die mediese uitgawes wat Christa Steyn as gevolg van haar behandeling in die gesig staar.

Die konsert word aangebied in die Sanlam-Ouditorium op die NWU-Pukkampus met die ondersteuning van Yamaha Suid-Afrika en begin om 19:30.

Kaartjies is reeds beskikbaar en kan gekoop word by Print Café in die Mooirivier Mall, Protea Boekwinkel op die Bult of Die Heimat-gebou (Gebou F9) op die NWU Potchefstroomkampus.

Kaartjies kan ook direk via die internet gekoop word by www.artema.co.za

Vir meer inligting kontak gerus vir Chris de Bruyn by 018  299 2850.
Onderhoude kan direk met Chris de Bruyn gevoer word by 082  855 7962

 

 

 

 

 

 

Gepubliseer deur: Pertunia Thulo