Printer-friendly version
Druk
Share this
 

Student van Noordwes-Universiteit ontvang Afrika-toekenning

Mafikeng – Ofentse Sebitlo, ʼn tweedejaarstudent van die Noordwes-Universiteit se Mafikengkampus is onlangs aangewys as jong entrepreneur in Jong Entrepreneur kompetisie.

Sebitlo is tans besig met ʼn BCom-graad in Vervoerekonomie en het ʼn toekenning ontvang van die KMMO (klein, medium en mikro-onderneming) Jong Entrepreneur-toekenning Afrika 2009.
ʼn Tweede plek in Afrika is merkwaardig. “Hoewel ek aangewys is as die tweede-beste jong entrepreneur in Afrika is daar niks ‘tweede-beste’ aan ons vermoë om met die beste in die wêreld mee te ding nie,” het Sebitlo gesê.

Sebitlo het die land verteenwoordig as projekbestuurder verantwoordelik vir die ontwikkeling van 'n besigheidsmodel vir die MIDZ (Mafikeng Industrial Development Zone), wat tegelykertyd getuig van erkenning vir Montsamaisa Bosigo se vermoë om by te dra tot die ontwikkeling van die Mafikeng-streek.

Montsamaisa Bosigo is Sebitlo se maatskappye wat al vir vier jaar lank deur hom bedryf word. Die maatskappy lewer dienste soos die opstel van besigheids- en bemarkingsplanne, projekbestuur, herontwikkeling van besigheidsprosesse, besigheids- en finansiële administrasie, lewensvatbaarheidstudies, mentorskap, hulp met aansoeke vir befondsing, en rekenaaropleiding.

“Vir alle jong entrepreneurs wil ek net herinner aan die spreukwoord: wie nie waag nie, sal nie wen nie. Daar is nie plek vir onbevoegdheid en 'n gebrek aan selfvertroue nie. Jy moet jou sterkpunte en talente identifiseer en dit ontwikkel tot op 'n vlak waar jy selfversekerd kan sê dat jy die beste op die betrokke spesialisgebied is,” het hy bygevoeg.

Ofentse_awardR
Ofentse Sebitlo (regs) tydens die toekenning seremonie