
SJGD tweede in internasionale kompetisie
Die Studente-Jool-gemeenskapsdiens (SJGD) van die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit het die tweede prys in ‘n internasionale kompetisie vir studentegemeenskap-diensorganisasies gewen.
Geen ander universiteit in Suid-Afrika het gedurende die 2012-kompetisie 'n toekenning of eervolle vermelding ontvang nie.
Dié eer het die SJGD te beurt geval met ‘n prys van $5 000 wat hulle met die MacJannet-prys vir wêreldburgerskap ontvang het. Die eerste prys is aan ‘n studente-organisasie in Mexiko toegeken en die derde prys vir ‘n organisasie in China.
Die MacJannet-prys word jaarliks toegeken aan studente-gemeenskapsprojekte van universiteite wat deel is van die Talloires Internasionale netwerk. Die NWU is lid van dié netwerk.
Vanjaar is 72 nominasies van 52 universiteite in 21 lande ingedien en die beoordelaars was beïndruk met die gehalte en omvang van die projekte. Slegs 11 projekte is wêreldwyd gekies om na die volgende rondte deur te dring.
Me Bibi Bouwman, Institutionele Direkteur: Gemeenskapsverbintenis, sê die NWU het drie projekte ingeskryf en die SJGD-projekte was die enigste hiervan wat vir die finale beoordeling gekies is.
Die studenteraadslid vir SJGD, Kobus Dannhauser, sê hy is baie bly oor dié erkenning wat SJGD ontvang het. “SJGD kom al ‘n lang pad saam met die gemeenskap en ek is baie bly oor almal se harde werk wat nou vrugte afwerp, selfs die harde werk van vorige jare.” Hy sê SJGD bly ‘n unieke organisasie wat hoofsaaklik deur studente bedryf word. “Ek is dankbaar dat mense raaksien wat hierdie studente in hulle vrye tyd opoffer.”
Die SJGD se projekte fokus op vier hoofareas van vroeëkinderontwikkeling, kinder- en jeugontwikkeling, kwesbare jeug en volwassenes, en verskeie uitreikprogramme na die gemeenskap. Verder fokus hulle op volhoubaarheid, bemagtiging en kwaliteit gemeenskapsbetrokkenheid. Twee derdes van die 92 SJGD-projekte is gerig op gemeenskapsontwikkeling, terwyl die ander derde op gemeenskapsdiens gerig is. Talle van dié projekte is langtermyn-vennootskappe wat reeds etlike jare met die geneemskap gesmee is.
Die SJGD is in 1977 gestig en is in sy geheel ʼn studentegedrewe organisasie. Sowat 4 500 studente is jaarliks by dié projekte betrokke. Die SJGD betaal jaarliks sowat R800 000 aan projekte en individue in Potchefstroom en die res van Noordwes.
Die studenteraadslid vir SJGD, Kobus Dannhauser, word deur die rektor van die Potchefstroomkampus, prof Herman van Schalkwyk (regs), gelukgewens.


