Printer-friendly version
Druk
Share this
 


Rugbyspelers ál groter, swaarder

Die moderne samelewing is besig om “rugbyreuse” te teël.

Op die veld is hulle suksesmasjiene, maar die gevolg daarvan op die individu se liggaam kan op die lang duur nadelig wees, het prof Hans de Ridder, direkteur van die Skool vir Biokinetika, Rekreasie en Sportwetenskap by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, gesê.

Sy skool het data oor Springbok-rugbyspelers van 1896 tot 2005 bestudeer. Daaruit blyk dit die spelers het weens onder meer wetenskaplike oefenmetodes, gespesialiseerde voeding en aanvullings vinniger groter en swaarder geword as die algemene bevolking.

“Die algemene bevolking word elke dekade gemiddeld 1cm tot 2cm langer en 1kg tot 2kg swaarder,” het De Ridder gesê.
Dis onder meer weens beter mediese sorg, voeding en die feit dat mense danksy moderne vervoermiddels nou wyer kan vermeng. Die toenemende effek van “groot” gene speel ook ’n rol.

Dié normale proses van groterwording gebeur teen ’n heelwat vinniger tempo in die geval van spelers wat kragsporte soos rugby en Amerikaanse voetbal beoefen, het De Ridder gesê.
“Die spelers sal later in hul lewe die gevolge van beserings erger as ooit tevore ervaar indien biokinetici hulle nie help om soepel en fiks te bly nie.”
Volgens De Ridder word die las op onder meer gewrigte al hoe groter namate die spelers se liggame groter word en hang die “beseringspook” dan toenemend oor hulle.

“’n Mens kan net wonder waar dit gaan eindig, want eindelik gaan die individu die prys betaal. Dit sal een of ander tyd ’n plato móét bereik,” het hy gesê.
Groter wordende rugbyspe lers is ’n wêreldwye verskynsel. Luidens ’n artikel in die British Medical Journal het voorspelers wat van 1987 tot 2007 aan die Wêrelbekertoernooie deelgeneem het geleidelik swaarder geword. Agterspelers het langer geword.

Suksesvolle spanne se voor- en agterspelers was in al die Wêreldbeker-reekse gemiddeld 2kg swaarder as hul minder suksesvolle teenstanders. Suksesvolle spanne se agterspelers was gemiddeld 2cm langer as hul minder suksesvolle teenstanders.

“Swaar spelers word toenemend belangrik in rugby omdat in die spel al hoe meer op fisieke konfrontasie gesteun word,” het die navorsers in die artikel gesê.
 


Prof  Hans de Ridder

 

 

 

Met erkenning aan Susan Cilliers - BEELD