Printer-friendly version
Druk
Share this
 

Reaksie op berigte oor die ministeriële ondersoek met betrekking tot die verdrinking van Thabang Makhoang op die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus

Institusionele Kantoor - Die NWU wil weereens beklemtoon dat enige vorm van ontgroening- of inisiasiepraktyke, op enige van sy drie kampusse, ten sterkste verbied word. Hierdie beleid word met erns beklemtoon en is bekend aan alle studente en personeel.

Die NWU streef daarna dat die doen en late van alle studente, moet strook met die bepalings, waardes en beleide van die universiteit. Indien wanpraktyke sou voorkom, het die universiteit ferm prosedures in plek om dit aan te spreek en regmatig op te tree.

Die NWU verwelkom die besluit van die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding, dr Blade Nzimande, dat ‘n formele ondersoek van stapel gestuur word na die tragiese verdrinking van ‘n eerstejaarstudent op die Potchefstroomkampus. Soos met die polisieondersoek wat steeds voortduur, sal die NWU alles in sy vermoë doen om die ministeriële ondersoek te steun.

Gedetailleerde uitkomste en aanbevelings van dié ondersoek word verwelkom, sodat toegesien kan word dat so ‘n tragiese gebeurtenis nooit weer plaasvind nie.

Die visekanselier van die NWU, dr Theuns Eloff,  sê die NWU betreur egter die feit dat die Minister ‘n mediaverklaring uitgereik het sonder om die NWU vooraf van sy beplande ondersoek in kennis te stel.

“Hoewel die NWU so ‘n ondersoek en die uitkomste daarvan verwelkom, sal die toekomstige optrede van bestuur steeds geskied in die belang van sy studente.”

Die NWU lê klem op die feit dat die verdrinking tydens ‘n sosiale aksie plaasgevind het en nié as deel van ‘n ontgroening- en   inisiasiepraktyk nie.

Die NWU is ‘n onderriginstelling wat daarna streef om verantwoording by studente te ontwikkel, om goeie waardes by hulle te kweek en om hulle toe te rus met etiese waardes, kennis en vaardighede vir die uitbouing van ‘n beter Suid-Afrika.

Navrae:    Louis Jacobs, Direkteur Korporatiewe Kommunikasie, Institusionele Kantoor
Noordwes-Universiteit
018 299 4918 / 082 901 6435

Datum:        3 Februarie 2012