Printer-friendly version
Druk
Share this
 

Pukfm-stasiebestuurder nou lid van die Bright Stars-klub

Potchefstroomkampus - Me Amoré Truter, stasiebestuurder van Pukfm, die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) se studente-radiostasie, is onlangs tydens die MTN Radiotoekennings by die Sandton Konvensiesentrum deur Jeremy Mansfield as lid van die Bright Stars-klub benoem.

Dié klub vereer jong individue in die radiobedryf wat hul merk maak en vir wie daar ʼn belowende toekoms voorspel word, en ʼn meer verdienstelike kandidaat kon hulle nie gekies het nie.

Onder Amoré se bekwame hand het Pukfm van nét ʼn kampusradiostasie gegroei tot ʼn toenemend belangrike rolspeler in die gemeenskap.

 “Ek dink Pukfm was in ʼn glasboks. Ons het uitgesaai, maar radio gaan oor soveel meer. Ons het dit besef en begin uitreik na die gemeenskap. Ek is ook baie trots dat Pukfm goeie plaaslike musiek ondersteun. Ons probeer sover moontlik groepe van Potchefstroom ondersteun deur hulle te help om vertonings te reël,” verduidelik Amoré.

Dat haar vernuf en vindingryke bestuurstyl voor al die gróót name van Suid-Afrika se radiolandskap vereer is, bly vir haar onwerklik. “Dit het nog nie ingesink nie. Hierdie goed gebeur met ander mense, nie met my nie. Om op só manier erkenning te kry vir jou werk is net ongelooflik,” vertel sy.

Amoré is ʼn boorling van Worcester en het in 2005 by die NWU se Potchefstroomkampus ingeskryf. Sy het dieselfde jaar by Pukfm as nuusleser begin en dien sedert 2009 as stasiebestuurder.

*Pukfm was ʼn finalis in nege van die 18 toekenningskategorieë, en benewens Amoré se prestasie, is me Bianca van Aardt and mnr Janus de Villiers ook vir hul marathon-uitsaaisessie beloon.
Bianca en Janus het vir 93 ure en ses minute, van 17 tot 21 Oktober 2011, onophoudelik uitgesaai. Hiervoor het hulle die toekenning vir die Beste Promosie- en/of Kampus-geleentheid ingepalm.

 

Amoré Truter.