
PUK KUNSTE
Pukki Talentfees
Pukki Talentfees: Agtergrond en Vooruitsig vir 2012
In 1983 ontstaan die NWU Potchefstroomkampus (toe PU vir CHO) se talentfees met ʼn nederige 6 kategorieë en 52 inskrywings. Intussen het die talentfees gegroei en het die 6 kategorieë uitgebrei tot 16, met ongeveer 150 inskrywings, en dit word as die toonaangewende breë studentekunsgebeurtenis op die universiteit se jaarprogram beskou.
Daar is twee hoofgroepe waarin die kategorieë verdeel word: Skeppende Kategorieë en Uitvoerende Kategorieë.
Die Skeppende Kategorieë bestaan uit visuele kunste, oorspronklike skryfkuns: prosa en / of poësie, asook oorspronklike komposisie. Hierdie werke word reeds voor die talentfees se finaliste-aande beoordeel en dit word deur die loop van die finaliste-aand in die foyer van die Sanlam-Ouditorium uitgestal.
Deelnemers aan die Uitvoerende Kategorieë ondergaan 'n streng oudisieproses voor die finaliste-aande, waarvoor slegs sowat 35 items (van 150 inskrywings) gekeur word.
Vanjaar vier die Pukki Talentfees sy 29ste bestaansjaar op 17 en 18Mei. Die fees strek oor dié lg. twee aande, waarvan die hoofbeoordeling op 17 Mei geskied, en die prysuitdeling by die Gala-aand op 18 Mei.
Die fees beloof vanjaar om 'n bederf vir die sintuie te wees met groot verskeidenheid vanuit die room van die PUK se kunste, tesame met 'n gesellige, onvoorspelbare atmosfeer saam met seremoniemeester en gaskunstenaar, GP van Rheede van Oudtshoorn, wat deur die manjefieke Artema Konsert-orkes (o.l.v. Pieter de Bruin) begelei gaan word.
PUK-Kunste en die SR-Kunsteraad (wat die fees gesamentlik in venootskap aanbied) kyk met groot verwagting en trots na dié geleentheid. Die Universiteit kan gerus breëbors spog met uitsonderlike en talentvolle studente.
Vir verdere navrae, kontak Alanka Craffert by 018 299 2844, of E-pos puk-kunste@nwu.ac.za.


