
Potgieter gaan SA ruimtewetenskap-gemeenskap verteenwoordig
Potchefstroom - Prof Marius Potgieter van die navorsingseenheid vir Ruimtefisika op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit is deur die Nasionale Navorsingstigting aangewys om in Julie 2010 die Suid-Afrikaanse ruimtewetenskap-gemeenskap gedurende die algemene vergadering van COSPAR in Bremen, Duitsland, te verteenwoordig.
COSPAR is die internasionale komitee vir ruimtenavorsing wat in 1985 in Londen gestig is as die eerste wetenskaplik georganiseerde tree die ruimte-eeu in. Sedertdien is 'n algemene vergadering al om die ander jaar byeengeroep en georganiseer.
Potgieter is 'n A1-gegradeerde navorser by die Nasionale Navorsingstigting en dosent in fisika op die Potchefstroomkampus. Dit is die hoogste gradering wat wetenskaplikes van die NNS kan ontvang.
COSPAR se doelwitte is om navorsing op internasionale vlak oor en in die ruimte te bevorder. Die klem is op die uitruil van wetenskaplike bevindings, inligting en menings deur 'n forum te verskaf, wat vir alle wetenskaplikes toeganklik is, met die oog op die bespreking van ruimtenavorsing. Hulle adviseer die Verenigde Nasies en ander inter-regeringsorganisasies aangaande ruimtenavorsingsaangeleenthede.
Potgieter sê die benutting van ruimtewetenskap word bevorder tot voordeel van die mensdom en vir die aanwending daarvan deur ontwikkelende lande en nuwe ruimtereis-lande.
Hy sê met die skep van die Suid-Afrikaanse Ruimte-agentskap in 2009 het navorsers in die Eenheid vir Ruimtefisika ook hierdie nuwe opwindende ontwikkeling aangegryp.
Die eerste vergadering oor die ontwerp en bou van 'n volgende mikro-satelliet vir Suid-Afrika was op 3 Maart vanjaar in Kaapstad gehou.

Prof Marius Potgieter


