Koffiekroeg open in biblioteek
Die nuwe koffiekroeg, ferdi’s, in die Ferdinand Postma biblioteek op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit is een van die eerstes, van sy soort in 'n universiteitsbiblioteek in die land.
 |
Prof Amanda Lourens, viserektor: navorsing en beplanning, knip die lint van die nuwe koffiekroeg saam met die studenteraadsvoorsitter, Jaycee van Rooyen, Danèl Benade (voorsitter van die akademiese raad) en me Suzette Coetzee van die Ferdinand Postma biblioteek.
|
Die viserektor: navorsing en beplanning, prof Amanda Lourens, het tydens die opening Maandagoggend gesê die koffiekroeg is vir haar 'n droom wat waar geword het. Sy het talle biblioteke by groot internasionale universiteite in die buiteland besoek en byna almal het so 'n koffiekroeg waar studente en navorsers gesellig saam verkeer.
“Ons wil die universiteit navorsingsgerig maak en ek hoop ons het nou die ruimte geskep waar ons navorsing ook op 'n informele wyse verder wil inspireer.”
Die direkteur biblioteekdienste, dr Tom Larney, sê hulle wil graag 'n besoek aan die biblioteek 'n aangename ervaring maak en sien daarom die voorsiening van verversings as 'n uitbreiding van die biblioteek se dienste. Wêreldwyd is die verskaffing van verversingsfasiliteite byna altyd deel van die verjongingskuur wat biblioteke ondergaan. Die biblioteek hoop veral dat dit vir beide studente en personeel nie net 'n verversingstasie sal wees nie, maar 'n plek van sosiaal-akademiese verkeer.
Die koffiekroeg word deur personeel van die kafeteria beman en sal vanaf 08:00 soggens tot 18:00 saans oop wees.
Die spyskaart bevat items soos koek (wortel, Bar One, Kahlua, sjokolade mousse), terte (spinasie en kaas, Peppermint Crisp, suurlemoen meringue, granadilla Cremora), slaaie, toebroodjies en muffins. Die pryse wissel tussen R21 en R9,80.
Koppies en bekers koffie, tee, Milo, warm sjokolade en Horlicks se pryse wissel tussen R9 en R16.
Drie dae na die opening van ferdi's op Maandag 18 Julie, bars die plek nog elke dag uit sy nate met baie tevrede studentegebruikers.
 |
Die gesellige nuwe koffiekroeg, ferdi’s, in die biblioteek.
|
|
Gepubliseer deur Kiewiet Scheppel op 21 Julie 2011.



