
Persverklaring van Noordwes-Universiteit (NWU) se Raad insake die tragiese verdrinking van Thabang Makhoang
Institusionele Kantoor – Tydens ʼn buitengewone Raadsvergadering van die NWU wat op 8 Februarie 2012 by die Indaba Hotel in Johannesburg gehou is, het die Raad sy opregte meelewing betuig met die naasbestaandes van Thabang Makhoang.
Hulle het die voorval as ʼn tragiese ongeluk bestempel en benadruk dat die verdrinking plaasgevind het tydens ʼn sosiale gebeurtenis vir (slegs) eerstejaars en nie deel uitgemaak het van ʼn ontgroeningspraktyk nie. Die Raad het bevestig dat geen vorm van ontgroening of ontgroeningspraktyke op enige van die drie NWU-kampusse toegelaat word nie. Die NWU het ʼn duidelike beleid in hierdie verband, en alle studente en personeel is deeglik bewus daarvan. Indien enige wanpraktyke voorkom, kan die Bestuur reken op die Raad se ondersteuning sodat beslissend opgetree kan word teen oortreders.
Die Raad het sy verbintenis herhaal om die familie van wyle Thabang Makhoang sover moontlik te ondersteun, en ook ʼn beroep gedoen op die Bestuur om ondersoek in te stel na die moontlikheid om uit te reik na die gemeenskap van Tswelelang.
Die Raad het die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding, dr Blade Nzimande, se besluit verwelkom om ʼn formele ondersoek te loods, en het hul volle samewerking beloof.
Die Raad het ook met goedkeuring kennis geneem van die Bestuur se voorneme om ʼn onafhanklike ondersoek deur ʼn span senior
advokate te laat onderneem. Die presiese opdrag vir hierdie ondersoek sal nog deur die Raad se Uitvoerende Komitee bepaal word.
Uitgereik deur die Raad van die Noordwes-Universiteit
Navrae: Mnr Peet van der Walt – Voorsitter, Raad van die Noordwes-Universiteit
082 465 2381
Dr Theuns Eloff, Visekanselier, Noordwes-Universiteit
082 806 4956
Datum: 9 Februarie 2012


