
Opleiding broodnodig vir bekamping van voedingverwante sterftes
Potchefstroom - Die term “honger” word beskryf as die ongemaklike of pynlike sensasie wat as gevolg van die behoefte aan voedsel veroorsaak word. In afgeronde syfers, is daar tans sowat 7 miljard mense in die wêreld, waarvan een uit elke sewe honger is – World Hunger Education Service.
Prof Johann Jerling, direkteur van die sentrum vir uitnemendheid in voeding aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, meen meer en meer mense is besig om te sterf omdat Afrika nie genoeg persone oplei om as ambassadeurs op te tree oor voedingkwessies nie. “Wanvoeding en ondervoeding eis reeds sy tol en die tendens oor die afgelope paar jaar, is dat dit vererger.”
As deel van Jerling se inisiatiewe rondom die bekamping van negatiewe voedingspraktyke, vind die tiende ANLP (African Nutrition Leadership Programme) werkswinkel vanaf 13 - 23 Maart, buite Potchefstroom plaas. “Hier word leiers in Afrika-voeding toegerus met die nodige leierskapsvaardighede om voeding uitdagings in Afrika aan tespreek.”
Dertig individue reg oor Afrika, met ondervinding in ‘n breë verskeidenheid voedingverwate velde, is vanuit twaalf lande vir die werkswinkel gekeur. Voorkeur is veral gegee aan individue wat beskik of besig is met ‘n nagraadse kwalifikasie, individue jonger as 45 en persone afkomstig van Franssprekende lande.
Die werkswinkel het dit ten doel om tot die ontwikkeling van toekomstige leiers, in die veld van menslike voeding in Afrika, by te dra. Die program fokus daarop om die kwaliteite en vaardighede van leiers te ontwikkel. Die langtermyn doelwit van die ANLP is om behoeftes vir leierskap op so ‘n manier aan te vul, dat dit die voeding uitdagings in Afrika sal oplos.


