Printer-friendly version
Druk
Share this
 

Onaktiewe kinders is siek kinders

Kinders wat minder as tien duisend treë per dag stap, loop gesondheidsrisiko’s om met kroniese siektes soos obesiteit, hoë bloeddruk, kolesterol of tipe twee diabetes gediagnoseer te word.

Volgens prof Andries Monyeki van die Skool vir Biokinetika, Rekreasie en Sportwetenskap aan die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU), bevind meeste Suid-Afrikaanse kinders hulself tans in ‘n kritiese stadium van onaktiwiteit. Hy meen Suid-Afrika het, naas Amerika en Brittanje, die derde hoogste obesiteitsyfer ter wêreld.

“Dit is baie belangrik om kinders reeds van jongs af fisiek aktief te kry. Nie net ter wille van gebalanseerde liggaamlike ontwikkeling nie, maar ook om bepaalde gesondheidsrisiko’s te minimaliseer. In dié opsig het navorsing bewys dat sommige volwasse siektes reeds by kinders jonger as tien jaar kan begin ontwikkel. Kroniese hartsiektes is ‘n voorbeeld hiervan.”

Prof Andries is tans besig met ‘n vyfjaar-opvolgnavorsingsprojek, wat spesifiek fokus op die gesondheid en fisieke fiksheidsaktiwiteite van 14-jarige kinders. Sy navorsing het in 2010 afgeskop en behels dat 310 hoërskoolleerders jaarliks getoets word om vas te stel of ‘n aktiewe leefstyl by hulle ontbreek, en indien wel, wat gedoen kan word om dit positief te ontwikkel.

Die kinders ondergaan verskeie toetse. Vraelyste, verskeie metings met ‘n pedometer (‘n toestel wat die hoeveelheid treë per dag meet), respiratoriese metings en algemene fiksheidstoetse.

Prof Andries beklemtoon die belangrikheid van sportdeelname vanaf ‘n jong ouderdom. “Sport is belangrik vir ‘n gesonde leefstyl. Dis egter problematies dat die gemiddelde kind sowat drie ure per dag voor die televisie deurbring. Kinders is ook onaktief as gevolg van die tekort aan fisieke aktiwiteite en deelname op skoolvlak.”

“Dit is dus bewys dat ‘n onaktiewe leefstyl by ‘n kind meesal geneig is om in die volwasse fase oor te spoel. ‘n Ongesonde leefstyl kan op sy beurt weer ‘n groot impak op persoonlike en die staat se sakke hê, omdat individue meer siek word. Dit is belangrik dat ons deur middel van dié navorsing bewustheid van ‘n gesonde, aktiewe leefstyl by veral kinders skep.”

Die studie word gedeeltelik deur die Nasionale Navorsingstigting (NNS) en die Mediese Navorsingsraad van Suid-Afrika (MNR) befonds en loop in 2014 tot ‘n einde.
 


Prof Andries Monyeki