Printer-friendly version
Druk
Share this
 

NWU verbind tot uitnemendheid

Die Suid-Afrikaanse Raad vir Personeelpraktyk (SABPP) is trots daarop om geassosieer te word met die Noordwes-Universiteit (NWU) en het bevind dat die NWU verbind is tot uitnemendheid in mensehulpbronne (MH), professionaliteit en gehalte. Die NWU is ook die enigste universiteit wat op die SABPP se raad verteenwoordig word.

Die SABPP is ʼn professionele liggaam vir mensehulpbronpraktisyns en is die gehalteversekeringsliggaam wat ʼn mandaat van die Suid-Afrikaanse Kwalifikasie-owerheid ontvang het om gehalteversekering van MH- en MHO-leervoorsiening te onderneem. Hulle akkrediteer ook universiteite se mensehulpbron- en bedryfsielkundeprogramme.

Die SABPP kry dikwels te doen met akademici van die toonaangewende universiteite en het bevind dat die NWU ʼn belangrike rol speel in die voorsiening van hoëgehaltehoëronderwys van MH-praktisyns op beide voor- en nagraadse vlak, sowel as in die lewering van waardetoevoegende navorsing en professionele ontwikkeling.

Volgens mnr Marius Meyer, Hoof- Uitvoerende Beampte van die SABPP, het hulle in die afgelope jaar heelwat positiewe interaksie met NWU-personeel gehad.

Die SABPP het spesifiek verwys na die akkreditasie van die B-graad in Opleiding en Ontwikkeling wat deur die Skool vir Kurrikulumgebaseerde Studies in die Fakulteit Opvoedingswetenskappe op die Potchefstroomkampus aangebied word.

Hulle het bevind dat dit inderdaad ʼn unieke program is wat ʼn belangrike tekortkoming in die akademiese mark ondervang. Hulle was beïndruk met die programleier, dr John van der Merwe en me Helen Meyer, en het ook met waardering melding gemaak van die ondersteuning van prof Robert Balfour, Dekaan: Fakulteit Opvoedingswetenskappe, prof Barry Richter, Direkteur: Skool vir Kurrikulumgebaseerde Studies, dr Jannie Jacobsz, Institusionele Direkteur: Kwaliteitskantoor en me Antoinette Vermeulen, Kwaliteitsbestuurder. Dr John dien ook op die SABPP se Etiekkomitee en het ʼn voordrag gelewer by die bekendstellingseminaar van hul Etiekgids.

Verder is twee akademici van die Mafikengkampus, prof Sonia Swanepoel, Dekaan: Fakulteit Handel en Administrasie, en prof Nicolene Barkhuizen, medeprofessor in die Fakulteit Geestes- en Sosiale Wetenskappe, verkies as voorsitters van SABPP-komitees.

Die raad was só beïndruk met die gehalte van hulle werk dat hulle verkies is as volwaardige raadslede van die SABPP.

Die SABPP het ook melding gemaak van die inisiatief en leierskap wat aan die dag gelê is deur dr Bennie Linde van die Skool vir Mensehulpbronwetenskappe in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe op die Potchefstroomkampus toe hy die SABPP se Hoëronderwyskomitee-vergadering gekoördineer het.

“In die lig van bogenoemde is ons nie verbaas dat die NWU uit alle oorde erkenning ontvang as die mees innoverende en bes bestuurde universiteit in Suid-Afrika nie. Die SABPP is trots daarop om met die NWU geassosieer te word en ons vertrou dat ons hierdie positiewe verhoudinge sal kan handhaaf,” sê mnr Meyer.