Printer-friendly version
Druk
Share this
 

NWU-student komponeer temamusiek vir DEKAT - TV

Potchefstroom - DEKAT-TV het op Donderdag 13 Oktober 2011 met 'n tweede seisoen van die televisiereeks op KykNet begin. Op daardie dag is die temamusiek wat deur Jaco Meyer gekomponeer is, ook bekendgestel.
 
Jaco Meyer is tans 'n nagraadse student in Komposisie, Musiekwetenskap en Etnomusikologie aan die Skool vir Musiek op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit.

Hy het die temamusiek as opdragwerk geskryf en die bekendstelling daarvan het die vorm aangeneem van 'n animasie van die Julie/Augustus-uitgawe van die DEKAT-tydskrif. Jaco is uitgenooi na die bekendstellingsfunksie van die nuwe televisieprogram en uitgesoekte gaste is by hierdie spoggeleentheid aan die eerste episode van die nuwe seisoen bekendgestel.

Tydens die geleentheid het Jaco die temamusiek beskryf as "'n artisties-eksentrieke uitdaging om met die kunssinnige en unieke konsepte te versmelt wat die alternatiewe invalshoek van DEKAT gestand doen".
 
DEKAT-TV is tot Desember 2011 op Donderdagaande om 21:00 op KykNet te sien en in hierdie joernaalprogram word kykers blootgestel aan 'n fantastiese fantaserende fantasiewêreld.

 

 

 

 

 

Gepubliseer deur:  Pertunia Thulo
                                  24 Oktober 2011