
NWU Sports Village amptelik geopen
Potchefstroom – Die nuwe NWU Sports Village, wat die Spaanse sokkerspan tydens die komende Sokker Wêreldbeker sal huisves, is onlangs in gebruik geneem.
Die Rektor van die Potchefstroomkampus, prof Herman van Schalkwyk, het die gedenkplaat onthul en gesê die kompleks simboliseer die Universiteit se verbintenis tot sport.
Volgens prof Annette Combrink, die Voorsitter van die plaaslike reëlingskomitee rondom die Wêreldbeker in Potchefstroom, is die stad trots daarop dat die Spaanse sokkerspan Potchefstroom as oefensentrum gekies het. “Ons hoop dat die Sports Village vir die Spaanse sokkerspan ’n tuiste weg van hulle huis sal word,” sê sy.
Die reisbestuurder van die Spaanse Sokkerfederasie, mnr Antonio Limones het gesê hulle is baie tevrede met die hoë standaard van fasiliteite wat die Universiteit vir hulle geskep het. Die Sports Village sal na afloop van die Wêreldbeker onder meer deur internasionale atlete en besoekers aan die stad gebruik word.
Die nuwe Sports Village bestaan uit ’n administratiewe blok wat kantore, ’n restourant met 160 sitplekke, ’n kroegarea, twee konferensielokale en mediese kamers huisves. 80 dubbelkamers en ’n verhitte swembad is ook deel van die kompleks


