
NWU-rekenmeesters laat die syfers mooi klop
Institusionele Kantoor - Met inagneming van die getal studente en die slaagsyfer van 88%, het die pas afgestudeerde geoktrooieerde rekenmeesterstudente van die Noordwes-Universiteit (NWU) in 2012 beter as ooit tevore gevaar in die Deel 1-nasionale kwalifiserende eksamen van die Suid-Afrikaanse Instituut van Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR).
Dié slaagsyfer was heelwat hoër as die land se gemiddeld van 78%. In ʼn vraag oor Finansiële Bestuur en Bestuursrekeningkunde het die NWU se studente die beste in die land gevaar. Daarmee het hulle voortgebou op die prestasies van vorige NWU-studente wat in die verlede reeds verskeie kere in verskillende vakke die beste in Suid-Afrika was.
Die uitslae plaas die NWU in totaal sesde in die land, met die Universiteit van Kaapstad, Rhodes, die Universiteit van Pretoria, Wits en die Universiteit van Stellenbosch in die eerste vyf plekke.
Ses-en-vyftig NWU-studente uit ʼn totaal van 64 – die meeste ooit in die geskiedenis van die NWU – het geslaag. Van dié wat geslaag het, is 46 van die Potchefstroomkampus en 10 van die Vaaldriehoekkampus.
Die program word ook voorgraads op die Mafikengkampus aangebied, maar dié studente voltooi sedert 2012 hul honneursstudies in Engels op die Potchefstroomkampus.
“Gesien in die lig van die behoeftes van die land en ook om relevant te bly, is dit belangrik dat ons ʼn groot groep geoktrooieerde rekenmeesters moet lewer,” sê prof Susan Visser, die direkteur van die Skool vir Rekeningkundige Wetenskappe op die Potchefstroomkampus.
Prof Herman van der Merwe, die dekaan van die Fakulteit Ekonomiese Wetenskappe en Inligtingstegnologie op die Vaaldriehoekkampus, is ewe trots op sy fakulteit se studente.
“Voor 2009 het ons kampus nie die kapasiteit gehad om in die verskillende professionele beroepsrigtings te spesialiseer nie,” sê hy. “Dit het beteken dat ons nie van die eerste studiejaar af al met die intensiewe spesialisasie wat Geokrooieerde Rekenmeerstersopleiding (GR-opleiding) verg, kon begin nie, omdat al die beroepsrigtings se studente in dieselfde klas was. Die groep wat in 2012 die kwalifiserende eksamen afgelê het, was die laaste groep wat in so ʼn gemengde voorgraadse klas was.
“Vanaf 2009 word die drie spesialisrigtings op ons kampus ook afsonderlik aangebied en 2012 se BCom GR-honneursgroep is die eerste groep wat suiwer deur die GR-baan gekom het van hul eerste jaar af. Ons is trots om deel te kan wees van die NWU-span en dat die getal geoktrooieerde rekenmeesters wat die NWU lewer, jaarliks verhoog.”
Dosente van albei kampusse sê geoktrooieerde rekenmeesters wat by die NWU studeer het, kry baie maklik werk.
Prof Jaco Fouche, programleier in die Skool vir Rekeningkunde op die Potchefstroomkampus, sê die studente het almal reeds werk gehad toe hulle die eksamens afgelê het. “Die meeste van hulle kry al aanbiedinge van so vroeg as hul tweede jaar af.”
Volgens hom is werkgewers baie tevrede met die kwaliteit van die NWU-studente. “Tydens die jaarlikse loopbaanskou wat die skool in Mei in samewerking met die Loopbaansentrum aanbied, was die grootste klagte van die meer as 30 werkgewers wat dit bygewoon het, dat daar nie genoeg studente was om in diens te neem nie. Sommige firmas kom van so ver as Kaapstad af om studente hier te werf. Hulle is veral beïndruk met die studente se dissipline en goeie maniere.”
Prof Heleen Janse van Vuuren, die direkteur van die Skool vir Rekeningkundige Wetenskappe op die Vaaldriehoekkampus, sê die meeste van die huidige BCom GR-honneursgroep het reeds kontrakte geteken om volgende jaar met hul klerkskap te begin.
“Ná hul klerkskap word die meeste opgeraap deur kliënte by wie hulle ouditwerk gedoen het,” sê sy.


