|
Agtergrond oor Wanda:
Ontstaan:
Dit was tydens ’n oorsese besoek van die voormalige rektor, prof. HJJ (Hennie) Bingle aan verskillende universiteite in die VSA, Europa en die Ooste. Na aanleiding van ’n besoek aan Japan het hy gesê hy hou nie van “lang-gang-koshuise” nie. Hy soek iets meer hoekig en kantig volgens die Calvinistiese beskouing.
Die argitek, Mnr. WO (Willem) Meyer, het hieraan voldoen en hy is gevra om die studentesentrum (SS) en toe die koshuise: Vergeet-my-nie, Wag-'n-bietjie, Kasteel en Wanda te ontwerp.
Die 4 koshuise is baie soos die hoofgebou ontwerp: twee arms en ’n lyf. Die ontwerp hou ook die voordeel in dat dit die geraas van die trein verminder aangesien daar ’n skeidingsmuur is wat die klank breek. ’n Verdere vereiste was dat elke kamer ’n noordelike aansig vir die son moet hê. Die koshuis maak ook voorsiening vir 8 inwoners per gang en sitkamers wat deur kleiner groepe mense gedeel word. Dit voorkom die lang, onpersoonlike gange.
Die eerste 2 van die groep wat gebou is, was Fort en Kasteel. Hierdie koshuise was oorspronklik bedoel vir mansstudente, maar daar was 'n toestroming van dames en sodoende ’n groot te kort aan verblyf. Die destydse Registrateur Finansies het toe by die rektor, prof. Bingle, twee aanbevelings gemaak: dat daar vooraf- vervaardigde asbesgeboue vir mans opgerig word en dat die koshuise Fort en Kasteel vir dames ingerig moet word.
Natuurlik het die koshuise nie oor damesfasiliteite beskik nie en dit moes spoedig aangepas word. In 1974 word Fort se naam verander na Wanda Dameskoshuis met Prof. Albert Viljoen as die eerste huisvader.
Die koshuisnaam Wanda is van ’n orgidee met die naam “Vanda” afgelei.
Kleure: vlootblou en wit
Embleem: ’n ”ghadaffi” (klein kameelperdjie)
Koshuisleuse: “Carpe Diem” (gryp die dag)
|