Printer-friendly version
Druk
Share this
 

NWU-Pukke help Google met Afrikaanse tegnologie

Die Sentrum vir Tekstegnologie (CTexT®) aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus het onlangs met Google™ saamgewerk om hul beplande Afrikaanse weergawe van YouTube op die been te kry. ʼn Fokusgroep is pas by dié kampus saamgeroep vir die evaluering van YouTube in Afrikaans.

Ulrike Janke (CTexT®), Steven Bosch (Skool vir Kommunikasiestudies) en Ian Parsons (Google).

  Deelnemers aan die fokusgroep het koppe bymekaar gesit vir die opspoor van foute en die oplos van taaltameletjies op die Afrikaanse YouTube-blad.
  “By Google is ons trots daarop dat ons produkte in al hoe meer tale beskikbaar raak. Google Search is al 'n geruime tyd beskikbaar in Afrikaans, maar nou is ons ernstig daaroor om ander Google-produkte ook in Afrikaans beskikbaar te stel. Die eerste produk is amper gereed. YouTube is een van die populrste webwerwe in Suid-Afrika (en regoor die wreld), en binne ʼn paar weke gaan gebruikers vir YouTube in 'n nuwe Afrikaanse baadjie sien”, sê Ian Parsons (Afrikaanse Taalspesialis, Google SA).
  Teenwoordiges, waaronder CTexTers, personeel en studente van die NWU-Puk se Skool vir Kommunikasiestudies en studente van Vertaalkunde en Taaltegnologie, kon met goeie idees vorendag kom vir YouTube-spesifieke terme waarvoor daar nog nie Afrikaanse woorde bestaan nie. Deelnemers het ook gehelp om foute uit te wys en stukkende skakels op te spoor. Parsons rapporteer dat die groep van 16 mense altesaam 515 voorstelle gemaak het in die vier uur, en dat daar sowat 100 veranderinge op die YouTube-webwerf aangebring is op grond van die terugvoer uit hierdie sessie.
  “Dit was 'n baie lekker groep om mee te werk. Die studente is duidelik passievol oor Afrikaans, en dit het ons gehelp om 'n massiewe stuk werk gedoen te kry,” sê Parsons.
  CTexT wil graag vir Steven Bosch en die Skool vir Kommunikasiestudies bedank vir die beskikbaarstelling van ʼn rekenaarlaboratorium vir die dag. Ook Juan Steyn van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte het baie moeite gedoen met die opstel van die rekenaars.

 Gepubliseer deur Kiewiet Scheppel op 23 Junie 2011.

facebook%20icon mobiicon twitter youtube