Printer-friendly version
Druk
Share this
 

Yale konsert-orkes en Puk blaas-ensemble tree plaaslik op

Kan iemand nog onthou wanneer laas 'n volle blaasorkes in Potchefstroom opgetree het? Aan die einde van Mei ontvang die Noordwes-Universiteit Pukkampus se Skool vir Musiek ‘n besoek van die hoog-aangeskrewe Yale Universiteit Konsert-orkes uit die VSA onder leiding van prof. Thomas Duffy.

Blaasorkes

Aan die einde van Mei ontvang die Noordwes-Universiteit Pukkampus se Skool vir Musiek ‘n besoek van die hoog-aangeskrewe Yale Universiteit Konsert-orkes uit die VSA.

  Hierdie blaasorkes van ongeveer 60 houtblasers, koperblasers, klawerbord- en slagwerkspelers is welbekend in die VSA vir hulle konserte van tradisionele sowel as ongewone blaasorkesmusiek. Hulle het reeds 23 oorsese reise onderneem, maar hierdie is hulle eerste konserttoer na Suid-Afrika en Swaziland.
  Die Yale Konsert-orkes sal op Donderdag 26 Mei om 19:30 in die Pukkampus se Sanlam-Ouditorium 'n konsert aanbied. Hulle program beslaan 'n wye verskeidenheid style, van Ave Maria tot West Side Story. Gedurende hulle besoek sal orkeslede ook meesterklasse aanbied vir studente van die Skool vir Musiek.
  As 'n bonus, sal die nuut-gestigte NWU Blaas-Ensemble onder leiding van prof. Karendra Devroop ook hulle buiging maak tydens hierdie konsert. Hierdie jong blaas-ensemble van 40 spelers is in Januarie vanjaar in samewerking met die Suid-Afrikaanse Musiek Uitreikprojek gestig. Dié projek het reeds vroeër instrumente, boeke en toerusting ter waarde van R350 000 aan die Skool vir Musiek geskenk. Die NWU Blaas-Ensemble bestaan uit studente van die Skool vir Musiek, waarvan menige sangstudente is wat ook 'n blaasinstrument bespeel.
  Kaartjies vir hierdie uitsonderlike konsert is beskikbaar gedurende kantoorure by die Konservatorium,  (018) 299-1692, of PUK-Kunste, (018) 299-2844, of vanaf 'n halfuur voor die konsert by die loket.

 Gepubliseer deur Kiewiet Scheppel op 12 Mei 2011.