
Werkswinkel gee hupstoot aan internasionale samewerking onder ruimtefisici
Om in die hemelruim in te tuur het vir wetenskaplikes 'n heel ander betekenis as vir ’n student wat dit as verskoning voorhou vir tyd saam met 'n geliefde deurgebring.
Veral vir die wetenskaplikes wat vanjaar gedurende Mei die internasionale werkswinkel oor kosmiese strale in die heliosfeer bygewoon het. Die werkswinkel is deur die Eenheid vir Ruimtefisika van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus aangebied en is by Stonehenge in die Vredefort Koepel gehou.
Die hoofdoel van die werkswinkel was om samewerking tussen die deelnemers te bevorder, en in besonder om te dien as 'n kapasiteitsboupoging vir heliosfeer-fisici in Suid-Afrika en Duitsland.
Die 23 oorsese besoekers het van die VSA, Duitsland en Italië gereis om die werkswinkel by te woon. Benewens hulle het agtien NWU-navorsers en -studente ook onder die aanwesiges getel.
Prof Marius Potgieter van die NWU het die werkswinkel aangebied. Dit is amptelik geopen deur die viserektor: navorsing en beplanning, prof. Amanda Lourens.

Verskeie wetenskaplikes het die internasionale werkswinkel oor kosmiese strale in die heliosfeer, wat deur die Eenheid vir Ruimtefisika van die NWU-Puk gehou is, bygewoon. Onder die afgevaardigdes was proff. Adri Burger (direkteur van die Eenheid), Marius Potgieter, Stefan Ferreira en dr. Ingo Busching.
Kort na die werkswinkel is die Eenheid vir Ruimtefisika in April vanjaar aanvaar as 'n assessorlid van NITheP, oftewel die Nasionale Instituut vir Teoretiese Fisika. Voordele van hierdie lidmaatskap is hoofsaaklik finansieel van aard, sê prof. Adri Burger, direkteur van die Eenheid vir Ruimtefisika by die NWU.
Volgens prof. Frederik Scholtz, direkteur van NITheP, is die voordele tweeledig. Dit sluit finansiële ondersteuning in vir die verblyf en uitgawes van besoekende medewerkers.
Die Eenheid vir Ruimtefisika het ook toegang tot NITheP se werkswinkel- en navorsingsprogramme, wat ondersteuning insluit vir werkswinkels of navorsingsprogramme wat by die Eenheid gehou word.
Gepubliseer deur Nikki Nel op 18 Mei 2010.


