Printer-friendly version
Druk
Share this
 

Vroeë kinderontwikkeling onder die soeklig

Die eerste konferensie oor vroeë kinderontwikkeling, met die tema, “Ons visie is ons kinders se toekoms”, is onlangs by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus aangebied.

Konferensie VKO

Van links is proff. Ajike Osanyin van Nigerië, Robert Balfour (dekaan van die fakulteit opvoedingswetenskappe), dr. Ona Janse van Rensburg (organiseerder), proff. Marike de Witt van Unisa, Kobus Mentz van die NWU-Puk, Marie-Louise van der Lee van Kanada en die rektor van die NWU-Pukkampus, prof. Herman van Schalkwyk.


  Die Fakulteit Opvoedingswetenskappe was die gasheer van die konferensie.
Vroeë kinderontwikkeling is tans ‘n nasionale prioriteit van die nasionale onderwysdepartement en die doel van die konferensie was om aan persone met die gemeenskaplike doel van vroeë kinderontwikkeling (VKO) die geleentheid te bied om met mekaar kontak te maak, referate te lewer en die South African Association for Research Development and Training in Early Childhood Education te stig.
  Die vyf subtemas het die hooftema toegelig en was eerstens voor-diens-/in-diensonderwysersopleiding in diverse konteks, tweedens navorsinggebaseerde pedagogiek, hulpbron- en onderrighulp-ontwikkeling, derdens verbetering van onderrig en leer en leeruitkomste, vierdens neigings en uitdagings in die vroeë jare en laastens die vordering van welstand en volhoubare, bemagtigende leeromgewings.
  Elke dag van die konferensie is begin met ʼn hoofspreker, en was prof. Mary-Louise van der Lee van Kanada met die titel: ’n Internasionale Perspektief op VKO, prof. Marike de Witt van Unisa met die titel: ’n Suid-Afrikaanse perspektief op VKO en prof. Ajike Osanyin van Nigerië met die titel: ’n Afrika-perspektief op VKO.
  Sowat vyftig aanbieders het opgetree en 120 mense het daagliks die parallelle sessies, werkswinkels, plakkaataanbiedings en rondetafel-besprekings bygewoon. Baie positiewe terugvoer is van die konferensiegangers ontvang.
  Die organiseerders, Brianda Venter, Lesia Rabie en Ona Janse van Rensburg, beplan om elke tweede jaar ʼn soortgelyke konferensie te organiseer en aan te bied.

 Gepubliseer deur Kiewiet Scheppel op 10 Maart 2011.