Printer-friendly version
Druk
Share this
 

Skoenlapperspesie kry NWU-lektor se naam

Hy is beter bekend vir die aanvoorwerk wat gedoen is om die wêreldbekende Brenton Blue-skoenlapper van uitwissing te red, maar nou is ’n ander skoenlapperspesie na dr. David Edge en sy vrou vernoem. 
  Edge, wat in Knysna woon, is vanaf 2009 ’n buitengewone senior-lektor by die Skool vir Omgewingswetenskappe en Ontwikkeling in die nagraadse program oor Biodiversiteit en Bewaringsekologie van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus. Die aanvoorwerk vir die bewaring van die Brenton Blue-skoenlapper het juis sy studies vir sy meestersgraad aan die destydse PU vir CHO behels.

erikssoniaedgei
So lyk die spesie skoenlapper Erikssonia edgei wat na dr. David Edge en sy vrou vernoem is.  Die skoenlappers word in die Waterberge aangetref. Links is die mannetjie en regs die wyfie.

 dr_dave_edge
Dr. David Edge en sy vrou, Esmé, na wie die Erikssonia edgei skoenlapperspesies vernoem is.

 

Die aankondiging dat ’n skoenlapperspesie na hom en sy vrou vernoem is, is gemaak in ’n artikel in die tydskrif African Entomology  wat vroeër vanjaar verskyn het. Hierin beskryf AJ Gardiner en RF Terblanche die spesie wat genoem is Erikssonia edgei. Die artikel se titel is: “Taxonomy, biology, biogeography, evolution and conservation of the genus Erikssonia Trimen (Lepidoptera: Lycaenidae)”. 
  Volgens prof. Henk Bouwman van dierkunde is die eerste eksemplaar van die skoenlapper eintlik deur Edge se vrou, Esmé, gevang toe hulle in Desember 1981 skoenlappers in die Waterberg versamel het. Dit was naby Perdekop ongeveer 33 km wes van Vaalwater in die Limpopo-provinsie.      
  Die gewone naam daarvan is die Tilodi- of Waterberg Copper-skoenlapper.  Die oorspronklike eksemplare van die skoenlapper word tans gehuisves in die S A Museum in Kaapstad.
  Hoewel Suid-Afrikaanse skoenlappers oor die afgelope 120 jaar goed nagevors is, is die Erikssonia-bevolking eers in die vroeë tagtigerjare ontdek.
  Opgewondenheid oor dié eer wat die Edge-egpaar te beurt geval het, word gedemp deur die feit dat die getalle daarvan aan die afneem is. Toe dit in die middel tagtigerjare ontdek is, was die bevolking sterk. In die 1990’s was daar heelwat minder as gevolg van die ’n verandering in boerderypraktyke in die omgewing waar dit voorkom en dat die gebied nie meer so dikwels afgebrand word as in die verlede nie. 
  Volgens Edge baat sekere skoenlappers, veral dié wat met miere geassosieer word, wanneer die veld soms brand, want dit maak die habitat oop wat daartoe lei dat die plante beter groei wat aan hulle voedsel voorsien.  Die skoenlappers baat egter slegs by so ’n brand as dit plaasvind in die tyd wat die skoenlappers nie vlieg nie en ondergronds is as larwes in mierneste.
  Tweedens het versamelaars ook miskien dié skoenlapperbevolking uitgeput. Die skrywers van die artikel meen dat dit moontlik een van die rare geleenthede is waar ’n skoenlapperbevolking benewens die stres van habitatverandering, ook die stres van oorversameling moes beleef.
  Lede van die “Lepidopterists Society of Africa” soek egter nog na ‘n ander plek waar die skoenlapper aangetref word en is hoopvol dat dit moontlik in die uitgestrekte berge van die Waterberg is.

 Gepubliseer deur Vincent Eastes op 25 Mei 2010.