NWU, Potchefstroomkampus, Nuus: Puk se Sand, See & Skulp-projek bring hoop

Puk se Sand, See & Skulp-projek bring hoop

Reёlings, reëlings, reëlings en triomf... Lang rit soontoe ‘n en lang rit terug, maar wat tussen daardie twee ritte gebeur het was iets wat geen mens eers sal kan scrapbook nie, behalwe as jy ‘n scrapbook in jou hart het.

Sand see skulp 6062

Die studente het baie pret saam met die kinders langs die see gehad.


  Sand See en Skulp is hartroerend en iets wat jou as mens weer op jou knieë forseer en aan ons Hemelse Vader alle dank gee vir die voorregte wat ons het. Om jou hart vir iemand te offer kos niks nie ons kry dit soveel meer omvattend terug.
  Sand, see en skulp is die geleentheid wat die Pukkampus se Studente-Joolgemeenskapsdiens aan ‘n groep minderbevoorregte kinders tussen die ouderdom van sewe en nege jaar bied om die see vir die eerste keer in hul lewens te beleef. Volgens die organisasie se Luré Delport, is 24 minderbevoorregte kinders van Promosa laerskool vanjaar die geleentheid gebied. Die groep kinders is deur onderwysers geïdentifiseer op grond van huislike omstandighede en werklose ouers.
  Elke student neem verantwoordelikheid vir ‘n kind vir die week. Op dié manier word persoonlike aandag verseker en hegte bande gevorm. “Tydens hierdie vakansie word ‘n verskeidenheid van plekke besoek en daar word aan verskeie aktiwiteite deelgeneem wat help met die kind se ontwikkeling en menseverhoudings. Ons het die vloot gaan besoek. Hulle het vir die leerders die duikpersoneel gewys en wat dit alles behels. Die Ushaka Marine World is besoek en dit was iets heel besonders vir die kinders en ons glo dat hulle die ervaring nooit sal vergeet nie. Ons was ook na die dieretuin in Durban,” sê Delport.
  Sand, see en skulp is een van die Puk-SJGD se grootste aksies wat jaarliks aangebied word. “Dis vir my so moeilik om vir mense te verduidelik watse ervaring dit is. Ek dink nie eers daar is woorde wat hierdie spesifieke projek kan beskryf nie. Dit is ‘n voorreg vir my as mej. Jool persoonlikheid, om te kan sê ek was deel en die organiseerder van hierdie projek. Ek as mens het soveel gegroei – emosioneel en geestelik,” sê Delport.
  “Dit is asemrowend om daardie 24 kinders te sien die see invaar, om elkeen se karakter te beleef en te besef hoeveel daar in hulle is. Die moeilikste ding van hierdie vakansie was die groet - elke liewe kindjie het ‘ n plek in jou hart, maar om te weet jy dra al hierdie herinneringe saam jou vir altyd, troos jou tog ‘n bietjie.  Laat God die wind onder jou vlerke wees - elke dag is ‘n geskenk van God.”

sand see skulp

 Gepubliseer deur Kiewiet Scheppel op 12 Mei 2011.