
Puk-krieketklub is Noordwes se beste
Die NWU-Puk-krieketklub se kelkie loop vanjaar oor. Nie net het die Puk die 45-beurt Noordwes Premier A-liga gewen nie, hulle het ook tweede in die 130-beurtliga geëindig en sodoende vir die nasionale klubkampioenskappe gekwalifiseer deur as algehele liga-wenners gekroon te word.
|
|
|
Conrad de Swardt. |
Die Puk se vrouespan het die 20/20 Noordwes-liga gewen en Patria het Over de Voor met sewe paaltjies in die koshuisliga geklop.
“Dit was ’n baie goeie seisoen vir ons,” vertel Conrad de Swardt.
“Die hoogtepunte vir my was om vir die nasionale klubkampioenskappe te kwalifiseer, asook die koshuisliga-eindstryd wat ons elke jaar op ons velde aanbied.”
De Swardt (31) dien sedert 2007 as die Puk se krieketbestuurder en was lid van waarskynlik die beste Puk-span nóg.
Dié span het in 2001 alles voor hul pad in die MTN-klubkampioenskappe weggevee en het ’n heelparty nasionale spelers opgelewer.
Volgens De Swardt kan sy klub se sukses die afgelope seisoen aan die universiteit se samewerking met Noordwes Krieket (NWK) toegeskryf word.
“Dit is ’n groot voordeel om met dinamiese mense soos Jacques (Faul), Basil (Clark) en Heinrich (Strydom) te werk.”
Benewens hul prestasies op die veld het die NWU-Puk-krieketklub ook die bod gewen om die Standard Bank Pro 20-skoletoernooi en die Coca-Cola Khaya Majola o.18-krieketweek aanstaande jaar aan te bied.
“Ons het gereeld provinsiale spanne wat van ons geriewe gebruik maak. Dan het ons wêreldklas velde waarop ons altyd uitstekende terugvoer kry.
“Die velde is ook in ’n pragtige omgewing geleë. Ons studentefasiliteite is ongetwyfeld van die beste in die land.”
Onder leiding van Hendrik de Vos, hoofafrigter, sowel as Jaco Vermaak en Sean Roodt, hulpafrigters, het spelers soos Chris Jacobs, Nicky van den Berg, Marchant Genis en Stefan Gericke nuwe hoogtes vanjaar bereik.
“Ons doel is om op hierdie sukses voor te bou. Ons is ook in die proses om skoleklinieke te begin sodat ons die beste jong talent kan ontgin,” het De Swardt gesê.
• Berig deur Bertie Jacobs
Gepubliseer deur Kiewiet Scheppel op 17 Maart 2011.



